‘Nou en vir altyd’ – Retief Burger

Retief-Burger-Nou-en-vir-altyd

Retief Burger se jongste album ‘Nou en vir altyd’. Foto: Facebook.

Een van die grootste suksesverhale in die geskiedenis van Afrikaanse Christelike musiek was dié van Luidkeels, wat deur Retief Burger gestig is en op die ou einde sewe CD’s, onder meer twee kinderalbums, vrygestel het.

Nou het Retief besluit om ʼn heeltemal nuwe rigting in te slaan. Sy eerste solo-album, Nou en vir altyd, is pas vrygestel, en vir ʼn verandering is dit in ʼn ateljee opgeneem. “Prys God” word op die wysie van die bekende lied “Laat Heer u seën op hul daal” gesing, maar met nuwe woorde wat deur Retief geskryf is.

Die titelsnit is ʼn oorspronklike komposisie, en dit behoort gou ʼn gunsteling onder gemeentes van verskeie denominasies te wees. “Ere in die hoogste hemel” is ʼn aanbiddingslied, maar met ʼn effense rock-aanslag. Daarom sal dit by oud en jonk aanklank vind. “Daar staan ʼn kruis” is een van die hoogtepunte van die album; dit gaan ook ʼn gunsteling by gemeentes wees. “Ek wag op U” is nog een van Retief se komposisies en dit lyk asof dit deur Psalm 130 geïnspireer is.

“Redder en Vriend” is gebaseer op ʼn ou Halleluja-lied, maar Retief het dit effens gewysig. Nog ʼn bekende lied wat Retief gewysig het, is “Neem my lewe”, wat in die Liedboek van die kerk voorkom. Die woorde is nog baie dieselfde, maar Retief het ʼn nuwe wysie daarvoor gekomponeer en ook bykomende woorde geskryf. Dit sal maak dat mense van voor af sal luister na ʼn lied wat hulle gedink het vir hulle bekend is. “Give thanks to the Lord” is Retief se eerste Engelse komposisie wat op dié CD voorkom, en hierop kan ʼn mens agterkom dat Retief ewe goed in Engels as Afrikaans kan skryf.

“Eerste liefde” is ʼn pragtige aanbiddingslied wat weer eens ʼn gunsteling kan word. Louis Brittz het “Ons sal nie stilbly nie” saam met Retief geskryf, en dit herinner baie aan die soort musiek wat hy as deel van Luidkeels opgeneem het. “It’s time for jubilee” is ʼn lekker snit wat Retief self geskryf het, en weer eens is dit ʼn lied wat mense gou sal saamsing. “Dans, dans, dans” is iets heeltemal anders; vir die eerste keer het Retief ʼn liefdesliedjie geskryf en dit is baie beter as die sentimentele snert wat sommige ander kunstenaars in mense se keelgate afdruk.

Hoewel ʼn mens dit nooit vir seker kan sê nie, was Luidkeels se musiek dalk op ʼn jonger mark gemik, veral omdat al hul albums tydens optredes opgeneem is. Met hierdie album het Retief egter vorendag gekom met musiek wat dalk by ʼn groter gehoor byval gaan vind. Hoe ook al, Retief het hom opnuut gevestig as een van ons land se voorste kunstenaars van Afrikaanse Christelike musiek en hoewel die mededinging in hierdie musiekgenre vanjaar nog nie juis baie straf was nie, kan hierdie album as een van die bestes van die afgelope jaar beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.