NRG se nuwe musiekvideo verskuif grense

NRG-musiekvideo

Hier is ‘n skoot uit NRG se jongste musiekvideo wat wys hoe die materiaal lyk voordat en nadat dit verwerk is. Foto: Facebook.

Sedert NRG se nuwe album, Roulette, verlede jaar vrygestel is, het dié groep drie treffers gehad, naamlik die titelsnit, “Sexy baby” en “Onvoorwaardelik”.

Nou is die vierde enkelsnit van die album, “Ek kan jou nie keer”, vrygestel. Dit is ʼn rustige snit oor ‘n hart wat homself gesluit het vir die liefde en in die proses gevaar loop om “die een” te verloor.

Die drie lede van die groep, Christiaan Botha, AB Kenobi (wie se regte naam Abel Knobel is) en Mnr. Stephantasties (Stephan van Huyssteen) het ʼn spesifieke visie vir die musiekvideo in gedagte gehad. Dit moes die intense emosionele stryd van ʼn donker tyd met impak, dog eenvoudig, weergee. Gevolglik het hulle besluit om self beheer te neem van die steluitleg en kameras, asook die klank-, beligtings- en vervaardigingstoerusting en só  ʼn deel van die reëlboek van die Afrikaanse musiekbedryf te herskryf.

Die eindproduk is ʼn swart-en-wit video met slim kamerawerk, ʼn uitstaande danselement en  digitale toorkuns wat die  presiese boodskap van dié liedjie oordra. Volgens die drie lede van NRG was dit ʼn waagstuk;  niemand besluit sommer om ʼn musiekvideo in ʼn garage sonder “gekwalifiseerde hulp” op te neem nie, maar hulle wou dinge anders doen en hulle is tevrede met die eindresultaat.

Dié video het al meer as 11 000 keer op You Tube gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.