Nuwe Afrikaanse musiekgroep maak vinnig naam

Die musiekgroep Winterglas. VLNR: Arno van der Merwe, Phillip Nel, Ruan Meyer, Paul Brink en Jonathan Birch.

ʼn Musiekgroep van Potchefstroom wil die opbrengs van hul jongste snit aanwend vir vrouestudente wat finansieel swaarkry.

“Ons wil graag ʼn paar dames se dag maak, finansieel kan dit nogal moeilik raak op kampus,” sê Phillip Nel (20), ʼn BCom-bestuursrekeningkundestudent in sy derde jaar aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Nel is die medestigter en tromspeler van die nuwe Afrikaanse musiekgroep Winterglas.

Volgens Nel was die groep se eerste optrede by ʼn huis. Hulle het R80 per kaartjie gevra en daar was sowat 100 mense daardie aand in die gehoor. En dit was glo “maar net die begin van iets groots”.

Die ander lede van die groep sluit in Ruan Meyer (20), hoofsanger, Jonathan Birch (20) wat die liedjies skryf, Paul Brink (22) wat klavier speel, asook Arno van der Merwe wat verantwoordelik is vir die baskitaar.

Volgens Nel skryf die groep ook oorspronklike liedjies en sing meestal in Afrikaans. Die groep het onlangs by die eerste Rocking Stellies-vertoning in Stellenbosch opgetree en is toe onmiddellik weer vir volgende jaar bespreek.

Hulle was al in al wat nagklub is in Potchefstroom en dit het gelei tot ʼn optrede by die gewilde Rocking Potch-fees wat verlede jaar die eerste keer aangebied is.

Nel, wat net uit sy een oor kan hoor, moes al in sy hoërskooljare sy sportdroom ter syde stel nadat hy sy regtervoet tydens ʼn rugbywedstryd gebreek het.

“Die dokter en my ma het gesê dis beter as ek nie aan sport deelneem nie,” sê Nel.

Nel het toe tromlesse begin neem en so het hy ʼn paar vriende genader om Winterglas te begin.

“As mense my herken as Winterglas se tromspeler en vra vir foto’s laat dit my nogal goed voel,” sê Nel.

Die gevierde musiekgroepe Glaskas, Spoegwolf en Die Heuwels Fantasties is net van die vele bekendes in die musiekwêreld met wie Winterglas al blad geskud het.

“Agter die skerms het ons net met van hulle probeer gesels en hulle is baie nederig en opreg,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.