Nuwe Afrikaanse musiektoekennings vind dán plaas

Foto: Verskaf.

Kunstenaars kan solank hul inskrywings gereed kry vir Pretoria FM se splinternuwe Afrikaanse musiektoekennings aangesien inskrywings oor net ʼn week open.

Pretoria FM het vroeër vanjaar aangekondig dat hy ʼn nuwe musiektoekenningsgeleentheid van stapel stuur om erkenning te gee aan gehaltekunstenaars, -lirieke, -skrywers en -produksies in die Afrikaanse vermaakbedryf.

Die toekenningsgeleentheid sal op 16 Oktober plaasvind. Volgens Hennie Koortzen, uitvoerende hoof van Pretoria FM, gaan dit ʼn wêreldklasvertoning wees wat spog met die room van die land se Afrikaanse kunstenaars.

Pretoria FM het vanjaar op 17 April, op dieselfde dag as wat die kykNET Ghoemas plaasgevind het, aangekondig dat hy ʼn aparte musiektoekenningsgeleentheid gaan aanbied. Dít te midde van omstredenheid nadat die liedjie Die Land van die Ghoemas se benoemingslys verwyder is weens Steve Hofmeyr se betrokkenheid daarby.

Koortzen sê daar sal tydens Pretoria FM se musiektoekenningsaand ook erkenning gegee word aan van die legendes in die Afrikaanse musiekbedryf.

“Ons wil erkenning gee aan Afrikaanse kunstenaars volgens slegs een kriterium; dit moet suiwer oor gehalte gaan en niks anders nie. Afrikaanse kunstenaars kry nie altyd die erkenning wat hulle verdien nie, en dit is hoekom ons hierdie musiektoekennings op die been wou bring,” het hy aan Maroela Media gesê.

“Kunstenaars skryf self in, maar die publiek gaan ook in sekere kategorieë die geleentheid hê om te stem vir hul gunstelingkunstenaar of -liedjie. Dié stemme sal dan ʼn sekere persentasie tel tot die finale uitslag.”

Volgens Koortzen sal daar 24 kategorieë wees waarvan twee nog nooit voorheen in Suid-Afrika bestaan het nie. Dit sal die eerste keer wees dat musiektoekennings aan ʼn Afrikaanse rolprent en ʼn Afrikaanse televisiereeks gegee word.

Pretoria FM se musiektoekennings sal op 16 Oktober by die Moreleta-ouditorium in Pretoria plaasvind, en ongeveer 5 800 sitplekke sal vir die publiek beskikbaar gestel word.

Kunstenaars wat wen, sal huis toe gaan met ʼn unieke trofee wat deur ʼn bekende beeldhouer ontwerp word.

Inskrywings vir dié geleentheid, waarvan die amptelike naam later bekendgemaak gaan word, open op 1 Julie. Kunstenaars het tot 15 Augustus kans om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Netso ·

Ja nee, weg met politiek wat sy kop om elke hoek en draai uitsteek! Dankie vir die moeite Radio Pretoria of Pretoria FM wat ookal polities korrek is!

Yvonne ·

Uiteindelik toekennings vir ons sonder die politieke inmenging. Steve bo aan die lys. Erkenning wat hy vir Afrikaanse musiek gedoen het. Dankie

hercu ·

julle moet bid & vertrou dat Steve Hofmeyr nie innie die tjoekie sit daai tyd nie!!

thea ·

nou sal die kaf van die koring geskei word
steve en vriende bo
en nie ons ou kunstenaars vergeet nie Lance James
en wat van frieda frances en kie

charmaine ·

Baie goeie werk Pretoria FM julle het gewikkel en julle sal almal wys hoe word dit profesioneel. Kan nie wag om stem te plaas nie.

Susan vl ·

Hy sal nie in tjoekie sit. En hierdie kunstenaars is geregtig om deel re neem. Als word net weg gevat van ons.

Stem ·

Ai, die mede SA Burgers wat tog so onaangenaam en sarkasties kan wees…. Onthou net (en ja, ek is ‘n groot Steve aanhanger), dit gaan nie net oor Steve nie, maar ook oor die ander kunstenaars wat saam ‘n toekenning kon en moes ontvang het vir Die Land.
Dankie Pretoria FM dat julle so ‘n geleentheid gaan aanbied. Die nuwe toekennings vir rolprent en televisiereeks is ‘n oulike toevoeging. Ek kan nie wag om ook te kan stem vir my gunstelinge nie.
Ook opgewonde om te sien wat die geleentheid se naam gaan wees….

Elizabeth Potgieter ·

Vir volk en Vaderland van toeka tot nou hierdie toekenning wat wag is verseker vir Steve vir iemand wat vir ons taal opstaan vir ons boere veg vir ons kinders te probeer te beskerm ja nee die een moet steve sin wees en soos ek Steve al gehoor en gesien het sal hy wel die toekenning deel met iedere en elke kunstenaar. Dankie Pretoria FM vir wat jul doen vir ons kunstenaars Sterkte vir Steve my nominasie is vir jou. En al die kunstenaars daar buite jul almal is gehalte kunstenaars dankie vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.