Nuwe Brendan-, Franja-snitte maak buiging op Top-20

Demi Lee Moore en Riaan Benadé se nuwe uitreiking, “Kannie sonder jou nie”, is weer vandeesweek terug op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 18de plek.

Dit kan moontlik toegeskryf word aan die splinternuwe musiekvideo vir dié lied wat pas bekendgestel is.

Brendan Peyper en Franja du Plessis se nuwe enkelsnitte maak ook vandeesweek hul buiging op die Top-20.

Franja se “My lief” is gister (Maandag) op Valentynsdag saam met ’n musiekvideo bekend gestel. Dié video het reeds meer as 22 000 kykbeurte op YouTube. “My lief” is vandeesweek in die 16de plek op die Top-20.

Brendan se nuwe enkelsnit, “Stop die wêreld ek wil afklim”, is net ’n kortkoppie voor Franja in die 14de posisie.

Riaan Benadé en Jay se “Rowwe bliksem” bly vir eers in die no. 1-posisie.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar agt snitte wat styg, ses wat daal, vier wat onveranderd bly en twee nuwe liedjies wat die Top-20 betree.

  1. Riaan Benadé met Jay – “Rowwe bliksem”
  2. Eloff – “Johnny blou”
  3. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  4. Riaan Benadé – “Spontaan”
  5. Appel – “Dina”
  6. Riaan Benadé – “Vat ’n bietjie”
  7. Bernice West – “Dink aan jou”
  8. Franja du Plessis – “Bring dit”
  9. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  10. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  11. Bernice West – “Hemel op aarde”
  12. Reën – “Vakansie op die platteland”
  13. Demi Lee Moore – “Kan jou nie my maak liefhê”
  14. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  15. Jay & Irene-Louise van Wyk – “My volgende fout”
  16. Franja du Plessis – “My lief”
  17. Die Heuwels Fantasties met Coenie de Villiers – “Victoriabaai”
  18. Demi Lee Moore & Riaan Benadé – “Kannie sonder jou”
  19. Wikus Botma – “Brannewyn lippe”
  20.     Ricus Nel – “Ploeg jy”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings:

Vandeesweek is daar heelwat nuwe enkelsnitte wat die radiogolwe getref het. Een hiervan is Anya Swart met haar debuut-enkelsnit, “Champagne shooters”.

“Die liedjie vertel ’n storie van hoe ’n mens moeilike tye in jou lewe moet omdraai; ’n mens kan nie altyd staatmaak op ander mense nie, maar jy kan altyd staatmaak op jouself,” sê Anya.

Christiaan Baartman se nuwe enkelsnit, “Moenie wag tot dit te laat is nie”, vertel van die twee jaar lange swaarkry wat kunstenaars beleef het weens die pandemie.

“Ná die twee jaar van swaarkry voel ek dat dit nou die tyd is om jou passie aan te gryp en regtig te leef. So baie van ons oorleef net elke dag in ’n wêreld vol kompromieë en dis nie hoe dit moet wees nie,” sê Christiaan.

“Ons is gemaak om voluit te leef, al maak ons nie noodwendig baie geld nie. Geld kan immers nie geluk koop nie. Dit gaan daaroor om gelukkig te wees en jou lewensdoel te bereik.”

Ander nuwe liedjies wat die afgelope week bekendgestel is, is Alter Ego se “Verlore”, Marli Monster se “Swaartekrag”, Ariose se “Saam met jou” en Jacques Adriaanse se “Meneer Rossouw”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.