Nuwe Caroline-Grace-snit wys haar prettige kant

Caroline-Grace, die sangeres wat bekend is vir haar sielvolle ballades, se splinternuwe enkelsnit stel ʼn ander kant van haar ten toon wat min mense al te siene gekry het.

“Bokswyn” het Vrydag die lig gesien saam met ʼn prettige musiekvideo, waarin Johan “Fatman” Brummer en ʼn handjievol van Caroline-Grace se vriendinne ook hulle verskyning maak.

Caroline-Grace en Fatman het in 2017 aan die sangkompetisie The Voice SA op M-Net deelgeneem en is sedertdien hegte vriende. In die musiekvideo vertolk Fatman die rol van die butler, wat seker maak Caroline-Grace en haar vriendinne se glase bly vol terwyl hulle kuier en ontspan.

“‘Bokswyn’ is ʼn tipiese tong-in-die-kies liedjie. Dit skep die gevoel van vryheid, amper soos ʼn anthem wat jou dwing om jou skoene uit te skop en te vergeet van die lewe wat soms so ernstig kan wees. Wyn is natuurlik nie die oplossing vir al jou probleme nie, maar dit maak dit vir seker beter,” vertel Caroline Grace, ma van twee jong spruite, Marcel Werner (3) en Isa Grace (1).

“Ek het bietjie gaan kyk na wat ek voorheen in die Afrikaanse musiekbedryf gedoen het en waar die bedryf nou staan. Dit het vir my gevoel asof ons nou wegbeweeg het van swaarder musiek en eerder deesdae ligter musiek maak.

“Ons is almal daagliks onder soveel druk en ek glo mense wil nou net na ligter musiek luister. Ek wou iets te voorskyn bring wat pret is en wat vir my ook lekker is om te sing. Ek wou ʼn groter mark bereik met ʼn liedjie wat vir my ʼn groter platform kan gee en wat ook vir myself dinge opkikker wanneer ek op die verhoog staan.”

Sy sê dit is vir haar lekker om haar sin vir humor en minder ernstige kant vir Afrikaanse musiekliefhebbers te wys.

“Ek kan ernstig wees, maar ek is nie altyd ʼn baie ernstige mens nie. Ek het ʼn baie groot sin vir humor en ek is bly mense kan dit nou sien. Die terugvoer wat ek oor die liedjie kry, is geweldig positief.”

Caroline-Grace het die liedjie saam met Hugo Ludik en Nick Jordaan van Muse Studios geskryf. “Ek was van die begin tot einde deel van die skryfproses en ek dink dit kom deur, want die liedjie is meer persoonlik.”

Caroline-Grace sê sy is lief vir ʼn glasie wyn ná ʼn lang week of as sy net wil ontspan saam met haar man of vriendinne.

Een van Caroline-Grace se groot hoogtepunte was toe sy op 9 Julie vanjaar die Suid-Afrikaanse volkslied in haar tuisdorp voor ʼn rugbywedstryd tussen die Springbokke en Wallis kon sing. (Foto: Facebook)

“Ek wou ʼn liedjie skryf wat almal sal laat goed voel en waarmee almal hulle kan vereenselwig. Ek wil hê dat ‘Bokswyn’ mense sal dwing om net vir daai oomblik te vergeet van die druk wat die lewe op mens kan plaas en net in die oomblik te leef.”

Een van Caroline-Grace se groot hoogtepunte was toe sy op 9 Julie vanjaar die Suid-Afrikaanse volkslied in haar tuisdorp voor ʼn rugbywedstryd tussen die Springbokke en Wallis kon sing.

Ná afloop van die wedstryd het grappe die ronde gedoen oor die fisieke ooreenkoms tussen Caroline-Grace en die skrumskakel Faf de Klerk.

“Ek lag heerlik daaroor en daarom het ons ook besluit om vir Faf die karakter in die video te maak wat ʼn verhouding met my verbreek. In die video verskyn daar ook ʼn foto van hom,” lag sy.

“Bokswyn” is digitaal beskikbaar op alle groot stromingsplatforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.