Nuwe gospelsangkompetisie vind eersdaags plaas

Een van die beoordelaars, Retief Burger (Foto/verskaf)

Die Laat Ons Juig‑gospelsangkompetisie bied ’n geleentheid soos min ander aan talentvolle Suid-Afrikaners.

Dié splinternuwe kompetisie word aangebied deur KruiskykTV in samewerking met CrossplusTV, Juig! Tydskrif en Patmos Studios, Moreleta Park, en bied aan oud en jonk die geleentheid om hul talent ten toon te stel.

Daar is ook ’n hele paar bekende name by dié spoggeleentheid betrokke. Ruan Josh hou sy lyf aanbieder, en die beoordelaarspan bestaan uit Liza Brönner, Retief Burger, Sharoney en Eon de Bruin.

Janiné Grobbelaar, die organiseerder van die Laat Ons Juig‑kompetisie, meen dat dié kompetisie ʼn geleentheid is om nuwe talent in die bedryf op te spoor.

“Retief het dit eintlik baie mooi beskryf in ʼn onderhoud wat ons met hom gedoen het: dis vir hom ʼn geleentheid waar hy weer kan mentorskap gee. Waar hy kan weergee wat hy geleer het in sy eie bediening.”

Grobbelaar het benadruk dat een van die groot doelwitte van die kompetisie nuwe musiek is. “Mense kan inskryf met ʼn leenliedjie, maar word aangemoedig om later in die kompetisie oorspronklike musiek te gebruik. Ons wil mense aanspoor om nuwe musiek te gebruik.”

(Foto: verskaf)

Sy het verder verduidelik dat die organiseerders van die kompetisie daarna streef om die deelnemers te help waar hulp nodig is.

“In die bedryf voel mens soms geïsoleer, asof jy op jou eie eiland is. Hier wil ons eintlik ʼn atmosfeer skep van – ja, dis ʼn kompetisie – maar dit gaan nie net oor wen nie. Hierdie hele proses moet vir jou iets wees waar jy kan ontwikkel en jouself kan uitdaag. Waar jy kan leer waarnatoe jy gaan met jou bediening.”

Grobbelaar is opgewonde vir mense om opnuut hoop te ervaar. “Die Here bring vir ons ʼn nuwe seisoen. Hy bring vir ons ʼn verdieping van hoop. Dis waarna mense hunker en nodig het in die tyd.”

Sy is ook oortuig daarvan dat die boodskap van die kompetisie deurlopend dieselfde gaan wees. “Ek kan my kop op ʼn blok sit dat daar ʼn goue draad deur die loop van die kompetisie gaan wees. Ek het ʼn gevoel dat al die deelnemers dieselfde boodskap gaan verkondig.”

Inskrywings sluit 28 Februarie 2022. Die top-50‑deelnemers word in Maart 2022 aangekondig. Hierna sal hulle weer op 2 April in Pretoria teen mekaar deelneem. Dié geleentheid sal ook gebruik word om die wenners aan te kondig. Diegene wat die top-50, semi-finaal en finaal haal, sal te siene wees in ʼn pragproduksie wat op KruiskykTV en CrossPlus uitgesaai sal word.

Indien jy jou lyf gospelsanger wil hou, klik hier om vir hierdie splinternuwe gospelsangkompetisie in te skryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.