Die akoestiese musiekgroep Kaleidoskoop het onlangs hul splinternuwe album bekend gestel.
Dié bekroonde musiekgroep, wat bestaan uit Jouba (stigterslid) en Anique Jordaan, vertel hulle is baie opgewonde dat aanhangers dié nuwe album, getiteld Gunsteling seisoen, moet hoor.
Die eerste enkelsnit op die album, “Wegbreek”, word al sedert November verlede jaar op radiostasies gespeel.
“Die afwagting in ons harte groei by die dag,” vertel hulle. “Ons hoop en glo, met elf nuwe oorspronklike liedjies uit ons albei se penne, asook twee Engelse verwerkings van bestaande liedjies, dat dit ná vier jaar die lang wag werd gaan wees.”
Die groep het al drie suksesvolle albums en ’n DVD uitgereik, onder meer Platsak (2010), wat in ’n strandhuis in Vleesbaai vervaardig is, Vars Uitgekerf, wat talle benoemings en toekennings ingepalm het en die groep se spesiale weergawe van die Cranberries-treffer “Zombie” bevat en Acoustic Covers wat bestaan uit Kaleidoskoop se verwerkings van bekende treffers.
Vir meer inligting oor die groep, besoek hul Facebook-blad.
Die groep se musiek is ook op iTunes beskikbaar.
Was gister by die groep se albumbekendstelling. Werklik een van die beste liedjieskrywers en musiekante wat tans in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf aktief is. Definitief die moeite werd om ‘n album aan te skaf en ‘n konstert by te woon. Glo die album sal nog vele toekennings oplewer!
Kan julle dit asseblief op Apple Music ook sit?