Nuwe lid, enkelsnit vir ADAM ná blaaskans

ADAM is terug. Stoff de Beer (voor) is nou saam met Kyle Grant (links agter) en Hugo Ludik (regs agter) deel van dié groep. (Foto: Deon van Wyk)

In Augustus verlede jaar het die bekroonde musiekgroep ADAM die Afrikaanse musiekkringe, én hulle stoere aanhangers, laat gons met die aankondiging dat hulle ná tien suksesvolle jare in die musiekbedryf besluit het om die tuig neer te lê.

Dié groep is egter nou terug op die musiektoneel met ʼn nuwe lid en enkelsnit getiteld “Liefde is”. Christoff de Beer, of Stoff soos almal hom noem, het by die oorspronklike groeplede Hugo Ludik en Kyle Grant aangesluit.

Reynardt Hugo, voormalige lid van die groep, is tans besig om ʼn solo-musiekloopbaan aan te pak terwyl hy die rol van dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk.

“Ons het verlede jaar besluit om ADAM eers vaarwel toe te roep en Reynardt het besluit om sy solo-loopbaan ʼn kans te gee. My ateljee, Muse Studios, is by my huis en ek was gelukkig om gedurende die inperking te kon werk en kreatief te kon wees in ʼn moeilike tyd waar daar nie vreeslik baie ander geleenthede was nie,” verduidelik Ludik, stigterslid van die oorspronklike groep.

“Hoewel ons daagliks vir ander kunstenaars liedjies skryf, was ADAM nog altyd my manier om my eie liedjies ten toon te stel en ek het dit gemis. Ná die inperking voel dit asof ons met ʼn nuwe lewe begin. Dit het baie dinge vir my en Kyle in perspektief geplaas en ons het albei in ons harte besef ons is nog nie klaar met ADAM nie.”

Volgens Ludik begin projekte stadig maar seker weer optel en staan hy eersdaags voor die kansel. Hy is ook voltyds besig om saam met die manne van Rubber Duc en Posduif musiek te vervaardig.

“Ek was lanklaas so gelukkig, maar een ding kort en dis om weer regstreeks op te tree en nou kan ons dit weer doen.”

Stoff de Beer. (Foto: Deon van Wyk)

Om hulle terugkeer na die kollig te vier, beloof die trio om met hulle splinternuwe enkelsnit luisteraars se stoutste verwagtinge te oortref.

“Liefde is” is ʼn popliedjie oor ’n paartjie wat op verskillende dorpe vasgevang is gedurende die inperking.

“Die ou sit en wonder hoe dit met sy meisie gaan en of hulle verhouding dit gaan oorleef. Dan besef hy dat hulle liefde nog altyd bly staan het, ongeag van alles wat hulle al moes deurmaak, en dat hulle hierdie struikelblok ook sal oorkom,” verduidelik die groep.

Nuwe lid De Beer is ʼn veelsydige musikant en werk al vir sestien jaar in die musiekbedryf. Hy was deel van groepe soos Roots of Youth, Rymstoff en 7 Grade Noord. Hy was ook vir drie jaar Kurt Darren se hoofkitaarspeler.

“Saam met Kyle en Hugo is elke dag ʼn fees. Hulle maak musiek weer lekker en gee my die kans om net weer myself te kan wees, eerder as ’n gewone sessie-musikant wat alles perfek moet doen,” sê De Beer.

“Liefde is” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.