Nuwe musiek vir Reën ná liefdesteleurstelling

Ná die dawerende sukses van Reën se debuutenkelsnit, “Vrystaat vlaktes”, is dié sangduo terug met ʼn splinternuwe uitreiking getiteld “Stof”.

Richann Brüssow en René de Klerk, wat aanvanklik bekendheid verwerf het toe hulle in die laaste seisoen van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou liefde by mekaar gevind het, het ook op dié reis ontdek dat hulle ʼn gedeelde passie vir musiek het en dat hulle stemme soos melktert en ʼn koppie boeretroos bymekaar pas.

Hulle paaie het egter intussen as paartjie geskei, maar dit het nie ʼn demper op hulle passie vir musiek geplaas nie en hulle het besluit om steeds voort te gaan as die sangduo Reën – al bevind Richann hom steeds op die plaas in Frankfort in die Vrystaat en René haar tans op Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Volgens Richann handel hulle jongste enkelsnit juis oor die moeilike tye wat ʼn mens deurmaak en dat dit jou weer leer om die goeie tye te waardeer.

“Om deur hartseer en teleurstelling te werk, neem tyd, maar op die ou end is daar altyd hoop. Die liedjie simboliseer ook ons as Reën wat terug is met nuwe musiek. Die stof het gaan lê en Reën is terug,” sê Richann.

Die liedjie is deur Richann, Francois de Klerk en Murray Lubbe geskryf. René sê sy het aanklank gevind by die liedjie aangesien dit op alle verhoudings van toepassing is.

Richann en René van Reën. (Foto: Verskaf)

“Enige verhouding het ʼn risiko daaraan verbonde dat dit kan beëindig word en hartseer veroorsaak. Ek heg baie waarde aan my verhoudings, en dis ʼn moeilike ding om te aanvaar as ʼn mens ʼn verhouding verloor. Die liedjie handel oor ʼn tydlose konsep. Die beste opsomming wat mens kan gee van die liedjie, is dat dit gaan oor hartseer en hoop.”

Hoewel hulle stemme pragtig saam klink in duet, het Richann sy gedeelte by Murray Lubbe se The Hit Factory in Pretoria opgeneem, terwyl René haar gedeelte by Dirk van Niekerk in die Kaap opgeneem het.

“Dit was ʼn baie vreemde ervaring om dit so apart te doen, maar ek dink dit was ook goed,” sê René.

Hulle het nie die feit dat hulle verhouding geëindig het, in die pad laat staan om weer goeie musiek vir hulle aanhangers te maak nie, sê Richann. René beaam dit.

“Die feit dat ons verhouding op een manier tot ʼn einde gekom het, was natuurlik hartseer, en ons het tyd nodig gehad om daardeur te kan werk. Ons het egter later besef dat ons nog steeds oor die weg kom en ʼn spesiale geleentheid het om musiek saam te kan maak.

“Ons ken mekaar goed en het saam deur baie gegaan, so ek dink as mens deur so ʼn ervaring gegaan het, stel dit jou ook in staat om eintlik meer gemaklik met mekaar te wees in terme van eerlikheid en mekaar vertrou met die musiek.”

Die duo vertel dat hulle steeds oorweldig is oor die reaksie wat “Vrystaat Vlaktes” gekry het.

“Die nuus dat die liedjie goue status bereik het, is oorweldigend en ons is so dankbaar. Die ding wat die lekkerste is, is dat mense die liedjie regtig geniet en daarvan hou. As mense van ‘Stof’ hou en dit net so geniet, sal ek gelukkig wees. Verder as dit het ek nie enige verwagtinge daaromtrent nie.”

“Stof” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Toy ·

Miskien eendag, dan kom jul as ‘n paartjie weer bymekaar uit, never say never.

Niklaas ·

Tog jammer die verhouding het gesneuwel. Hul het na so ‘n mooi paartjie gelyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.