Nuwe musiekfamilie, enkelsnit vir Andriëtte

Andriëtte. (Foto: Alex + Chris Photography)

Andriëtte, wat verlede jaar getref het met die enkelsnit “Druppel in die see”, het pas by Coleske Artists Management aangesluit én ’n splinternuwe liedjie, “Mis jou meer”, is nou te hoor.

Dié naaswenner van die Idols-kompetisie in 2007 sê dit was nog altyd ’n droom om deel te wees van die Coleske-familie.

“Nou is ek bevoorreg om te kan sê ek is,” sê Andriëtte, wat ná haar deelname aan Idols die Afrikaanse musiekbedryf oorrompel en vroeg reeds in haar loopbaan sukses behaal het.

In ’n baie mededingende Afrikaanse musiekbedryf het sy veral groot dankbaarheid teenoor Theuns Jordaan, die geliefde Afrikaanse kunstenaar wat onlangs sy stryd teen leukemie verloor het.

“Theuns het my net ná Idols onder sy vlerk geneem en my saam met hom laat optree. Dít sal ek nooit vergeet nie,” sê sy.

In 2008 het sy ’n Vonk-toekenning in die afdeling vir beste kontemporêre vrouealbum, vir haar debuutalbum getiteld Diamant, ingeoes. Sy het ook in 2014 ’n Ghoema-toekenning ontvang in die kategorie vir beste kontemporêre vrouealbum vir haar album getiteld Wat rym met liefde.

Andriëtte is ’n gebore en getoë Kapenaar van Brackenfell. “My kinderjare was baie gelukkig en ek het baie herinneringe van rugby en krieket speel saam met my broer. Op laerskool het die sanggogga my gebyt – die koorjuffrou het my voor laat staan en vir my ’n mikrofoon aangegee,” vertel sy.

Dit was glo juis op daardie oomblik dat sy geweet het sy wil nét sing. Nou, ses vollengte-albums later, is sy een van die land se gewildste Afrikaanse kunstenaars.

Andriëtte. (Foto: Alex + Chris Photography)

“Ek het natuurlik my gunstelingliedjies,” erken sy. Boaan haar lys is “Napoleon”, wat vir haar geskryf is deur Steve Hofmeyr, en “Sewe Oseane”, uit die pen van Rudi Claase.

Andriëtte het haar ná skool eers in die skoonheidsbedryf bekwaam en was self al die eienaar van ’n klerewinkel. Sy is ook ’n geleentheidsbestuurder en beoefen deesdae voedselkunde as ’n stokperdjie.

Sy is intussen ook getroud en is ma van drie seuns wat haar lekker besig hou. “Ek werk tans aan nuwe materiaal en ook aan myself. ’n Gesonder, gelukkiger ek,” sê Andriëtte.

Sy beskryf haarself as humoristies. “Ek hou daarvan om mense te laat lag, maar ek kan ook baie ernstig en diep wees. Oor die algemeen is daar maar altyd ’n glimlag op my gesig en ek hou daarvan om met mense te gesels.”

As sy nou in ’n glasbal kon kyk en haarself oor 20 jaar sien, sou sy graag iemand wou sien wat die lewe met volle oorgawe aangepak en nie een kans misgeloop het nie.

“As ek nog kan doen waarvoor ek lief is – sing en optree – is dit ’n bonus.”

Luister hier na “Mis jou meer”. Die liedjie is ook beskikbaar op die album Afrikaans is Groot Volume 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Wow, Andriette; jy lyk fantasties!
Geluk met jou nuwe enkelsnit.