Nuwe musiekgroep gee jou daardie vakansiegevoel

Vanilla (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die nuwe Afrikaanse musiekgroep Vanilla maak goedvoel musiek wat jou lus sal maak vir vakansie, strande en tyd saam met vriende.

Die groep bestaan uit Jaen-Pierre Dowling (baskitaar), Francois Keyser (tromme), Tyan Odendal en Xander Stander, albei op stemme en kitaar.

Die groep vertel dat hulle in 2015 reeds ʼn musiekgroep begin het, maar dié groep het in Engels gesing. Hulle sing nou al vir sowat ʼn jaar slegs Afrikaans.

“Mense het al baie gevra hoekom ons nie in Afrikaans speel nie, en ons het dit dikwels oorweeg en dan eers weer gelos. Maar ons het toe uiteindelik besluit om dit te probeer, omdat dit ons taal is, dis ʼn mooi taal en jy kan jouself só mooi uitdruk daarin,” sê Keyser.

Dowling, Keyser en Odendal het vir 13 jaar saam vir hul kerk musiek gemaak voordat hulle saam in Vanilla begin sing het.

Vanilla (Foto: Facebook)

Odendal sê al vier die groeplede skryf deesdae saam aan hul Afrikaanse musiek. Hulle het reeds twee suksesvolle Afrikaanse liedjies uitgebring.

Hul jongste liedjie, “Almal hier om die vuur”, is geskryf met die oog op die Desember-vakansie.

“Dis ʼn tipiese somerliedjie,” sê Dowling. “Ons almal het probleme en goed wat ons nie wil doen nie, soos werk en skool en eksamen. Daar is daagliks goed waarvoor jy net nie lus is nie, so ons wou ʼn liedjie skryf wat jou net laat vergeet van alles en jou laat dink aan die Desember-vakansie, see toe gaan, en net ʼn bietjie om die vuur sit en ʼn bier drink vir nog ʼn uur … om jou nie te bekommer oor jou moeilikheid nie.”

Hulle sê hulle wou die liedjie die tyd van die jaar bekendstel aan die publiek omdat dit ʼn lekker-luister liedjie is vir matrieks wat klaar maak met eksamen of mense wat op vakansie gaan.

Odendal sê hulle kyk as groep baie op na ander groepe soos Fokofpolisiekar en dat hulle graag in dieselfde rigting wil beweeg.

“Ons het altyd gekyk na hoe hulle speel en onderhoude wat hulle doen, en ons het net gedink: ‘wow, dít is wat ons wil doen’.”

“As jy eers begin musiekmaak het, kan jy nie daarsonder nie. Ons speel al lank saam, aan die begin was dit meer rondmors, maar hoe meer jy vorder, hoe meer wil jy vorder. Ons kan nie meer sonder musiek gaan nie.”

“Almal hier om die vuur” is op alle digitale platforms beskikbaar. Volg die groep hier op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.