Nuwe musiekgroep het passie vir Afrikaans, mense

Inspirasie Veelvoud. (Foto: verskaf)

Die Afrikaanse musiekduo, Inspirasie Veelvoud, hoop om ’n boodskap van positiwiteit en samehorigheid met hul splinternuwe enkelsnit te deel.

Nico van Vuuren (46) en Mariloé van Niekerk (46), die lede van Inspirasie Veelvoud, se heel eerste enkelsnit, ook “Inspirasie Veelvoud”, is Vrydag 5 Augustus uitgereik en sit die huppel opnuut terug in die stap.

“Ons wou ’n positiewe naam vir onsself kies, en die liedjie is baie positief van aard. Die liedjie gaan oor vriendskap en familie,” het Van Vuuren vertel.

Die ontluikende groep wil met dié nuwe liedjie mense laat besef dat dit ’n voorreg is om ware vriende te hê en saam met hulle te kuier.

“Ons wil daardie gelukkige gevoel wat mens kry wanneer jy tyd saam met ware vriende deurbring, oordra; ’n goeie boodskap.”

Die grondslag van die duo se musiek is positiwiteit en ’n passie vir Afrikaans. Van Vuuren benadruk dat hulle ’n kollig gestel het op Afrikaanse musiek vir Afrikaanse mense.

“Ons het ’n groot liefde vir die taal. Ons is trots Afrikaans. Ons is maar boertjies.”

Hul musiek is ook geskoei op unieke melodieë en lirieke, iets wat hulle voel hulle reeds bereik het met die polsende nuwe enkelsnit.

“Die belangrikste is om jou passie uit te leef,” voeg Van Niekerk by.

Die liedjie lê al jare in Van Vuuren se argief en Van Niekerk se stem was die verlore legkaartstukkie wat die liedjie se vlam opnuut aan die brand gesteek het.

“Ek het gevoel dat daar iets in die liedjie kortkom. Dis hoe Inspirasie Veelvoud eintlik begin het. Ek het Mariloé genooi om deel te wees van die liedjie, en so is die duo ook daaruit geskep. Die liedjie sou nie wees wat dit vandag is sonder haar nie.”

Die kunstenaarspaar het onderskeidelik al ’n lang pad deur die Afrikaanse musiekbedryf heen gestap. Dié paaie het nege jaar gelede gekruis, hoewel die musiekduo onlangs eers ontstaan het.

“My pad kom nou al ’n hele paar jaar; ek het begin sing toe ek maar vier jaar oud was,” het Van Niekerk aan Maroela Media vertel.

Sy vertel nostalgies van die reistogte na haar ouma se huis wat sy, haar ma en sussie aangepak het. Dis juis hiertydens, tussen die gebruiklike saamsing-liedjies wat deur die motor gepols het, dat sy besef het hoe warm haar hart vir musiek klop.

Kyk die musiekvideo van “Inspirasie Veelvoud” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

So baie dankie vir die wonderlike Artikel Maroela Media en Mizanne…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.