Nuwe rede om by die rooi stoel te kuier

Die bekende rooi stoel voor Rooiberg Wynkelder op die R62 buite Robertson. Die foto is geneem toe die kelder sy 50ste verjaardag in 2014 gevier het. (Foto: Clifford Roberts)

Die enorme rooi stoel langs die R62 tussen Worcester en Robertson het al vele vervelige reis met ’n paar kiekies, bene rek en wyn koop by Rooiberg Wynkelder, tuiste van die stoel, opgehelder. Nou is daar nog ʼn groter rede om te stop, skryf Maryke Roberts, na ’n onlangse kuiertjie.

Die kelder spog nou met sy eie sjiek bistro – Red Chair Bistro & Deli – waar ’n intieme koffietoonbank van Wiesenhof jou kans gee om ’n koffieproe te doen met ’n klein verhoog neffens ’n vleuelklavier, waar daar voortaan elke maand ’n kunstenaar sal optree. Kunstenaars wat akoesties optree pas by die intieme venue en atmosfeer in. Sonder inperking kan die restaurant 100 mense by tafels huisves en elke vertoning gaan met ’n ete vooraf gepaard.

Marianne Lochner, bemarkingsbestuurder vir Rooiberg Wynkelder, het nie verniet musiek studeer nie. Die nuwe bistro en deli het tydens die opening verskeie vermaaklikheidsterre as gaste verwelkom met vertonings deur Danie Niehaus en Anna Davel. Anna het vertel dat dit die eerste plek was waar sy haar nuwe vertoning gehou het en dat elke nuwe venue soos ’n nuwe huis vir kunstenaars is.

Rooiberg Wynkelder het onder Marianne se hand in 2006 die ou wynstoor langs die proelokaal in ’n restaurant en bakkery verander. Dié klein ruimte is uitverhuur. ’n Groter kombuis het later gevolg, maar dié resep het later nie meer gewerk nie en Marianne se bemarkingsbrein het oortyd begin werk.

“In hierdie tye wat die kelder meer toe as oop was danksy inperkingsregulasies, het ons hierdie plek gebou. Mense het gesê ons is mal om te dink ons kan ’n restaurant staanmaak in ’n tyd wat ander restaurante vou. Maar ons het geglo ons drome hoef nie ook in inperking te wees nie.”

Die twee bedrywe wat erg onder inperking deurloop, is die teater- en wynbedryf en Marianne het besluit om albei ’n mooi tuiste te gee.

Riaan Pienaar, wat eintlik ’n mediese verteenwoordiger is, het die dekor behartig. Riaan doen in sy vrye tyd dekor en het al ’n paar gastehuise in die dorp oorgedoen. “Sy styl is baie flambojant en ek het geweet ek wil hom gebruik om die industriële ontwerp ‘warmer’ te maak, maar ook modern en vars te laat lyk. Ons kon egter nie iemand kry om gedurende die inperking die restaurant te bestuur nie, en Riaan het gevolglik besluit om die bestuur self oor te neem. Hy is steeds by sy permanente werk en het sy pa, ma en broer na die dorp laat trek om alles namens hom te bestuur.”

In die somer is die glasdeure wyd oop en in die winter knetter die kaggel gesellig.

Riaan vertel dat sy ondervinding geleer het dat “al is die partytjie nie altyd lekker nie, ʼn mens baie dinge kan oorsien as dit darem net mooi om jou is”. Hy het sy verbeelding vrye teuels gegee en die bistro in ’n kleurvolle, sjiek kuierplek omskep waar kinders heerlik buite kan baljaar, pa die nuutste sporttelling op die grootskerm kan byhou en ma ’n gin en tonic of glas wyn kan geniet. Rooiberg Wynkelder se wyne kan geniet word en in die wynwinkel en proelokaal neffens die bistro gekoop word.

Die spyskaart speel lekker met woorde wat met die rooi stoel te make het: die uitskopstoel, die regisseur se stoel en vele meer. Riaan het tradisionele geregte geneem en dit ’n kinkel gegee. Daar is basaar-jaffels en selfs ’n ontbyt-jaffel, Franse roosterbrood met piesangbrood gemaak, hoenderpastei, kaasborde, Boland bobotie, bunny chow en vele meer. Kinders het hul eie spyskaart wat so in die speel geniet kan word.

Meer oor die stoel:

Danie Niehaus was een van die sangers wat by die opening opgetree het. (Foto: Clifford Roberts)

Marianne vertel: “Ek het ’n fliek gekyk waar mense in Kanada foto’s by ’n groot stoel geneem het wat my laat besluit het dat Rooiberg so ’n groot stoel moet kry. Daar is baie sulke groot stoele regoor die wêreld – in Kanada, VSA, Spanje, Italië en Duitsland. Dit maak ons deel van die familie van groot stoele. Dis gewoonlik by toerismebestemmings waar hierdie groot stoele te siene is, omdat ’n stoel die simbool is van gasvryheid en van ‘kom rus en kom sit ’n bietjie’. Ek het baie navorsing hieroor gedoen waarna die stoel plaaslik gebou is en toe in 2013 opgerig is. Ons stoel moes natuurlik rooi wees en ons het dit bekendgestel deur om die stoel as ’n verhoog te gebruik. Danie Niehaus het saam met Christo en Cobus Snyman bo-op die stoel opgetree.”

Dit is die grootste rooi stoel in Afrika. Die stoel is 9 meter hoog en die sitplek is 4,5 meter van die grond af. Besoekers kan met die leertjie opklim waar hulle die uitsig oor die Langeberge kan geniet en foto’s neem. Daar is ’n tafeltjie en stoele bo-op die groot stoel waar besoekers gereeld ’n glasie vonkelwyn geniet, of selfs ’n ete vanaf die bistro kan bestel.

Rooiberg is ook die enigste kelder met ’n slottemuur (love lock wall) langs die stoel. Dit is opgerig in die week toe hulle die tralies met slotte van die brug in Parys verwyder het. Die slotte het te swaar geraak en sou die brug laat kraak. Daar is al bykans 2 000 slotte aan ons muur en hier was selfs al ’n paar verlowings!

Besoekers kan hul eie slotte bring of ’n rooi slot in die proelokaal koop. Die slot word dan aan die muur gehang en eie aan die wyntradisie gooi hulle dan die sleutel in ’n wynvaatjie, sodat hulle liefde soos goeie rooiwyn kan verouder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.