Nuwe Robbie Wessels-liedjie pronk op Top-20

Robbie Wessels. (Foto: Verskaf)

Die grapjasakteur en musikant Robbie Wessels is terug met ʼn nuwe enkelsnit waarin hy oor verskillende “manne” en elkeen se passie vir hul unieke ryding sing.

Dié nuwe liedjie, “Plathond”, betree vandeesweek die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 20ste posisie en die musiekvideo het ook reeds meer as 71 000 trefslae op YouTube.

Wessels verduidelik skertsend in ʼn Facebook-video dat die titel na “daardie ‘plat’ bottel brandewyn wat maklik onder jou voertuig se sitplek gebêre kan word” verwys.

Die sanger Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as “Prop”, se debuutenkelsnit, “Kwaaitjie”, klim met een plek na nommer 19.

Van Rooyen is ook binnekort weer by Helpende Hand se LIG-konsert, wat 3 September op die Sol-Tech Monumentpark-kampus plaasvind, te sien.

Daar is verder vyf liedjies wat in die trefferparade klim, vyf wat hul plek verloor en agt wat onveranderd bly.

  1. Eloff – “Witblits”
  2. Brendan Peyper – “Insomnia”
  3. Riaan Benadé en Jay – “Rowwe bliksem”
  4. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  5. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  6. Riaan Benadé – “Spontaan”
  7. Riaan Benadé en Ricus Nel – “Haai haai”
  8. Eloff – “Johnnie Blou”
  9. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  10. Bernice West – “Ek is nie jou X nie”
  11. Elandré – “Lieflik”
  12. Karlien van Jaarsveld en Jacob Swann – “Lief”
  13. Bernice West – “Jona”
  14. Elandré – “Hand aan hand”
  15. Rooksein – “Genade nader”
  16. Jo Black – “Sê my mamma”
  17. Ivan Roux – “Single”
  18. Appel – “Dina”
  19. Prop – “Kwaaitjie”
  20. Robbie Wessels – “Plathond”

*Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Die groep Moses Metro Man, wat al 12 jaar lank saam musiek maak, is terug met ʼn nuwe enkelsnit, “Dit brand”.

Die groep se hoofsanger, Jako Meyer, sê hulle het weer daardie “hongerte” wat nodig is om musiek op te neem en dat “Dit brand” die perfekte manier is om daardie vuur vir musiek te stook. Oor die betekenis agter die liedjie sê Meyer: “Blomme verwelk, gras verdor, maar die liefde sal ewig bly staan.”

Oos, Wes, tuis bes. Só lui die ou spreekwoord en Frikkie van Biljon se jongste enkelsnit, “Huis”, handel juis hieroor – jou huis, die plek waar jy tuis voel en aanvaar word vir wie en wat jy is.

Ander liedjies wat ook die afgelope week bekendgestel is, sluit in Die Heuwels Fantasties se “Bellville”, Margo se “110” en Jody Mayhew se “Altyd somer saam met jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.