Nuwe saamgestelde album strek oor grense heen

ʼn Nuwe saamgestelde album genaamd Diversiteit is pas bekendgestel, en soos sy naam impliseer, bestaan dit uit die diverse genres van nege verskillende kunstenaars.

Die album bestaan uit nege liedjies en elkeen is ʼn intieme inleiding tot elke kunstenaar deur middel van hul klank, boodskap en musiek. Hierdie album is ʼn produk van Jean Marais, eienaar en medevervaardiger van Tunes Studio se sakemodel en waardes wat gerig is op inklusiwiteit en toeganklikheid.

“Ek was nog altyd bekommerd oor die feit dat mense nie om een vuur kan sit nie – oor hul oortuigings, kultuur, etnisiteit of iets anders. Maar eintlik is ons almal dieselfde. So ʼn album oor diversiteit was vir my perfek,” sê Marais aan Maroela Media.

Marais sê die nasionale staat van inperking is ʼn gelykmaker vir almal in die land, ongeag jou verskille van ander, en daarom is Diversiteit op die perfekte tyd bekendgestel.

“Almal is nou gelyk – ons almal sit by die huis, so nou moet ons saamwerk. In die album wil ons diversiteit, respek en verdraagsaamheid by mense kweek.”

Hy sê dit was vir hom belangrik om juis dié album in Afrikaans op te neem. “Ek dink dit is goed en gepas om dan die kulturele versperring in Afrikaans af te breek,” sê Marais.

Diversiteit bevat klanke van kletsrym, reggae, Afrika-inslae, rock, folk en ook meer atmosferiese klanke soos ʼn delikate duet.

Die kunstenaars wat aan hierdie album deelgeneem het, sluit Churchil Naudé, Riaan Nieuwenhuis, Riku Lätti, Bacchus Nel, Frazer Barry, Tuin, Petronel Baard en Soetmelk, Charel Kleinhans en Jolyn Phillips in.

Diversiteit is gemeng en vervaardig deur Mark Ellis en Jean Marais, wat ook verantwoordelik was vir die ritme-afdeling op agt van die nege snitte.

Agt van die nege snitte is Afrikaanse liedjies – die uitsondering, “Ubunye”, is geskryf en word gespeel deur Charel Kleinhans, met Danie du Toit van Spoegwolf as gaskunstenaar.

“Die Bloed” was die eerste snit wat bekendgestel was op die album en ook die enigste snit wat voorheen al vrygestel is op Churchil Naudé se onlangse solo-album, Kroesifie. Hierdie weergawe van die liedjie op Diversiteit is wel besonders en op ʼn nuwe manier aanmekaargesit.

“Dit is almal wat deel uitmaak van hierdie album se wens dat hulle deur hul taal en musiek elkeen hul boodskap aan luisteraars sal bring. ʼn Boodskap wat ons uitnooi om ons verskille en diversiteit te vier en te geniet en sodoende die kulturele versperrings tussen ons af te breek,” sê hulle.

Diversiteit is op alle digitale platforms beskikbaar. Vir meer inligting besoek Tunes Studio se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.