Nuwe sangbundel vir hedendaagse Afrikaanse musiek

jeug_hoop_efegy_org.jpg

Foto: Efegy.org

Die Moderne Afrikaanse Jeugsangbundel is ʼn inisiatief van die FAK onder meer om oorspronklike werke van liedjieskrywers aan die Afrikaanse jeug bekend te stel.

Die FAK se oogmerk met die bundel is die verspreiding van die werk van die meer intellektuele en ervare uitvoerende kunstenaars. Die werk van net 25 hedendaagse kunstenaars wat ʼn besliste bydrae gemaak het tot die musiekbedryf sedert 2000 is ingesluit. Die bundel bevat 50 liedjies met twee werke van elke kunstenaar. Die kunstenaar moet ook self verantwoordelik wees vir die oorspronklike musiek sowel as die lirieke.

In die samestelling van die bundel het die FAK bly fokus op goeie verwerkings en skryfstyl eerder as platvloerse lirieke met ʼn geleende Europese melodie – die soort musiek waarna verwys word as “kitsmusiek” of “spookasem”. Die FAK het ook met dié nie-winsgewende projek weggeskram van kommersiële kitstreffers en oornag-sangsensasies.

In ʼn verklaring het die FAK gesê: “Ons wil graag ʼn nalatenskap laat waar jong mense en gemeenskappe nog steeds oor 50 jaar die liedjies van kunstenaars soos Karen Zoid, Francois van Coke, Hemelbesem, Elvis Blue, Joshua na die Reën sal sing, bewaar en respekteer.”

Die bundel is nog nie gereed nie en die datum van uitreiking sal weldra op Maroela Media aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.