Nuwe son skyn in Afrikaanse musiek

Afrikaans-herlaai

Afrikaans Herlaai bestaan uit Dehan von Solms, Carlyn Fransman, Eunice Kemp en Whaden Johannes. Foto: Facebook.

Die legendariese liedjieskrywer en pianis, Christa Steyn, is vier jaar gelede aan kanker oorlede, maar danksy haar seun, Douw, leef haar nalatenskap voort.

Hulle het in 2004 ʼn opname-ateljee bekend as Studio of Note saam begin en tot met haar dood het hulle saam opnames gemaak. Na Christa se dood het hy besluit om die naam van die ateljee na Son te verander, nie net as ʼn akroniem van Studio of Note nie, maar ook die Engelse woord vir “seun”.

Douw se idee was om JNS Musiek, wat deur Christa se jarelange musiekvennoot Jannie du Toit gestig is, te laat herleef. Dit is hoe hy en Herman, wat nie familie van hom is nie, begin saamwerk het.

Jannie het sy eerste paar albums self gefinansier en uitgereik en Herman en Douw het besef dit sou nie maklik wees om ʼn platemaatskappy te begin nie. Die ander probleem was dat dit deesdae soveel makliker is as ooit tevore om musiek op digitale platforms te versprei. Dit maak die bedryf meer mededingend, eerder as oorvol, omdat dit elke kunstenaar sy plek in die son gee.

Die idee van Afrikaans Herlaai was om ou Afrikaanse liedjies te laat herleef. Volgens Herman en Douw was dit ʼn lekker proses, waarmee die bekende musiekpromotor, Lydia Winchester en die legendariese musiekregisseur, Boet Pretorius, gehelp het.

Die kunstenaars is deur middel van Facebook opgespoor en dit was moeilik om ʼn produksie van so ʼn aard op die planke te kry sonder erkende name. Dehan van Solms se pa is die bekende operasanger, Dewald van Solms en hy het ʼn bas-stem soos sy pa. Eunice Kemp is nog een van die kunstenaars wat Herman en Douw beïndruk het omdat sy nog jonk is en volgens hulle uiters talentvol.

Die musikale verwerkings is nie noodwendig dieselfde as op die oorspronklike liedjies nie. Volgens Herman en Douw moet jy ʼn nuwe weergawe van ʼn bestaande liedjie heeltemal anders doen, of beter as die oorspronklike een, as dit baie dieselfde klink. Daar is ʼn moontlikheid van ʼn tweede volume van Afrikaans Herlaai, maar hulle is nou eers besig met ander projekte.

Nog ʼn projek waarmee Herman en Douw besig is, is Sheraaz, ʼn instrumentale groep waarby hulle albei betrokke is. Volgens sê hulle kan ʼn baie groter gehoor bereik omdat dit instrumentaal is en hulle beskou dit as wêreldmusiek. Dit beteken ook dat hulle by meer geleenthede kan optree, soos by Afrikaanse en Engelse feeste.

Hulle het nie ʼn formule of resep wat hulle volg nie, maar hulle wil instrumentale musiek meer kommersieel maak.  Die ander groep wat ʼn kontrak by hulle losgeslaan het, is Signal Hill, ʼn duo wat bestaan uit Nico Scheepers en Liesl Harris-Kruger. Hulle sing hoofsaaklik in Engels, maar hul album sal ook ʼn paar Afrikaanse snitte bevat.

Sheraaz het in Julie by die Atterbury-teater saam met Dehan van Solms en die nuweling Hailey Clark opgetree. Hailey se debuutalbum is pas voltooi en die eerste enkelsnit behoort binnekort vrygestel te word. Sy is ʼn jong kunstenaar en Herman en Douw glo ʼn blink toekoms lê vir haar voor. Benewens Dehan van Solms, het Lee Scott ook ʼn duet saam met haar op haar album opgeneem en hy gaan dit saam met haar tydens dié konsert sing.

Herman en Douw is ook betrokke by die na-produksie van die reeks Varsity sing, wat op kykNET te sien is. Hul betrokkenheid hierby is ʼn uitvloeisel van Afrikaans Herlaai. Hulle het eers die na-produksie van Die Top 20 op kykNET en Unisa se internasionale klavierkompetisie behartig.

Hulle moet byvoorbeeld die musiek kies vir die insetsels wat tydens elke program van Varsity sing gebruik word. Herman en Douw is albei lief vir koormusiek, en hulle glo dat Varsity sing dit meer gewild sal maak.  Hulle beskou Suid-Afrika as een van die sterkste lande  wat koormusiek betref, soos die onlangse sukses van die Universiteit van Stellenbosch se koor bewys het.

Herman en Douw glo ʼn platemaatskappy moet ʼn plan met ʼn kunstenaar hê voordat hulle ʼn kunstenaar se loopbaan aan die gang kry. Volgens hulle het kunstenaars leiding nodig, veral as hulle jonk is, maar dit beteken nie dat hulle in ʼn blik gedruk moet word nie.

Vir hulle is musikale integriteit uiters belangrik en omdat hulle self ook musikante is, verstaan hulle presies wat dit verg. Hoewel Son Records nog relatief nuut in die musiekbedryf is, lê daar ʼn blink toekoms vir hulle en hul kunstenaars voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Ja, dis waar, ons moet net die mense help wat die oorspronklike eienaars van Afrikaans is. Staatsfinansiering is dan soveel makliker. Laat die Afrikaners maar weer eens opsnork. So val die boerehelde… met ‘n vol beursie in die hand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.