Nuweling bereik blitsig goue mylpaal

Elandré Schwartz ( Foto: Facebook)

Elandré Schwartz, die “kleindorpdromer” van die Oos-Kaap wat oornag bekend geraak het nadat sý weergawe van ʼn bekende Bruce Springsteen-liedjie die internet aan die gons gehad het, het Vrydag goue status met sy debuutalbum bereik.

Die album, Kleindorp-dromer, is op 1 September vrygestel en 15 000 eksemplare daarvan is reeds verkoop. Select Musiek het dié nuus op sosiale media bevestig. “Ons is bitter trots om aan te kondig dat Elandré se debuutalbum, Kleindorp-dromer, in minder as vier maande goue status bereik het. Baie geluk, Elandré,” het die platemaatskappy geskryf.

Die 22-jarige Schwartz het op sy Facebook-blad geskryf hy is stomgeslaan deur die nuus. “Ek is so dankbaar. Aan elke persoon wat hierdie album deel van hulle lewens gemaak het, julle het my lojaliteit vir altyd. Nog ʼn droom is verwesenlik,” lui die inskrywing.

Schwartz het vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê hy was ook maar net ʼn dromer en nou het sy drome waar geword. “Ek was ʼn ‘kleindorpdromer’ van Despatch wie se drome waar geword het, en daarvoor kan ek net sê dankie.”

Kleindorp-dromer is beskikbaar in musiekwinkels landwyd én op iTunes en ander digitale platforms. Vir meer inligting besoek Schwartz se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LB ·

Afrikaans het ‘n manlike diep stem met ‘n unieke kwaliteit nodig gehad, en een wat werklik kan sing. Bly nederig en met daardie “menswees” kwaliteit wat jy nou uitstraal, dit is skaars. Geluk Elandre!! Ons is bly vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.