Onbeskryflik

Charné Grabie

Elke keer wanneer ‘n nuwe vroulike kunstenaar haar verskyning op die musiekindustrie se horison maak, wag almal met opgehoue asems en onbeskaamde hóóp: Miskien is dit hierdie keer ‘n vars, opwindende nuwe klank om die effe vervelige mark te troef. En dan gebeur dit nie…

Die wag is egter verby. CHARNÉ GRABIE is ‘n jong, funky girl met ‘n effense rasper in haar praatstem wat jou onmiddellik aan die bekende rock-legendes van die internasionale mark herinner. Hetsy dit Bonnie Tyler, Cher of Courtney Love is, iets omtrent die gutsy Pretorianer het ‘n lekker skeut van al die formidabele vroue – maar dis nie waar dit stop nie. Charné het oorgenoeg van haar eie identiteit sodat sy nie gebuk sal gaan onder ewige vergelykings nie. Haar debuut, ONBESKRYFLIK, is genadiglik nie nog ‘n spookasem, hou-my-vas-want-ek-is-lief-vir-jou album nie. Die kontemporêre rock-pop styl is kundig opgejazz met energieke moderne ondertone en die klank is een wat beide ‘n nuwe generasie sal oorrompel, maar genoeg wortels het om ouer aanhangers te laat swymel. Charné self waag dit om te sê dat daar selfs hier en daar ‘n effense country gevoel deurskemer, maar vanuit hierdie oogpunt wil ons waarsku: moenie enige iets voorspelbaar verwag nie …

Die titelsnit van die album, #5: Je Ne Sais Quios, is nie alleen ‘n kragtoer in terme van klank en konsep nie, die pluimpie moet gaan aan Charné wat saam geskryf en gepoleer het aan die song. (Besonderhede aangedui in die omslag.)
Dis ook die geval met heelparty van die ander snitte op die album, en as ons radio speeltyd in ag neem, is dit regverdig om #1: Steeds by my en beslis #7: Beautiful Day spesiale melding te gee. Laasgenoemde is enige tyd, enige plek net so goed en selfs beter as baie van die internasionale liedjies wat ons plaaslike klankgolwe ry.

Alhoewel hierdie ‘n debuut album is, het musiekwinkels reeds hulle bestellings geplaas, nog voor veel bemarking gedoen is. Hoekom? Want Charné, wat onverpoos optree op elke denkbare plek en met energie en wilskrag haarself as sanger bemark, reeds ‘n indrukwekkende aantal aanhangers het wat drumpels voos trap op soek na hulle gunsteling se eerste CD. Charné weet wat sy wil hê. Nie alleen het sy uitgehou vir ‘n platekontrak wat haar die geleentheid sou gee om te doen wat by haar stem en persoonlikheid pas nie, sy het ook ‘n stewige hand in die produksieproses gehad. So het sy byvoorbeeld haar eie logo ontwerp en aangedring dat die omslagontwerp en boekie met ‘n oorspronklike, dog uiters gebruikersvriendelike konsep spog.

ONBESKRYFLIK en dus daarmee saam, Charné Grabie, verdien om in jou speler gedruk te word. Hier is uiteindelik ‘n teenvoeter vir die gewone la-di-la-bla-di-bla waarvan ons al heimlik meer as genoeg gehoor het. Dis tyd vir ‘n nuwe asem in die Afrikaanse musiekindustrie. En mag daai asem stormsterkte bereik.

Speellys

  1. Steeds by my
  2. Dis net jy
  3. Alles raak te veel
  4. In tye soos die
  5. Onbeskryflik (Je Ne Sais Quoi)
  6. Al my girls
  7. Beautiful Day
  8. Bettie Boep
  9. Weet jy
  10. Cherry Tree
  11. Steeds by my (remix)
  12. Love bomb

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.