Ondersteuningskonsert vir Elize Cawood aangebied

Elize Cawood. (Foto: Antonia Steyn)

ʼn Groot groep Afrikaanse kunstenaars sal eersdaags saam op die verhoog in Pretoria te sien wees vir ʼn konsert ten bate van Elize Cawood. Dié veelbekroonde aktrise is verlede jaar met kanker gediagnoseer.

Die vervaardigers van die Afrikaans is Groot-konsertreeks het die inisiatief geneem om dié konsert op die been te bring ter ondersteuning van Cawood in die tydperk waarin sy nie kan werk nie.

Sy was verlede jaar op die AIG-verhoog te sien saam met haar man, die bekende akteur Wilson Dunster, en haar dogter Jenna Dunster, tydens Laurika Rauch se ikoniese treffer “Die nostalgie”.

“Elize is ʼn nasionale juweel, veral vir die Afrikaanse kunste,” sê Barry Pretorius, regisseur van Afrikaans is Groot.

Elize Cawood en haar man Wilson Dunster in Oktober verlede jaar by die roos wat na haar vernoem is. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Om saam haar te kon werk op ons verhoog, was so ʼn enorme voorreg. Jy kan haar teenwoordigheid aanvoel, en die respek wat ons vir haar het is juis die motivering vir hierdie ondersteuningskonsert.”

Cawood is onder meer bekend vir haar rol as Pop in die destydse televisiereeks Verspeelde lente, asook haar rolle in Die wonderwerker, die musiekrolprent Liefling en ook die fliek Skemerson. Sy is in Februarie vanjaar met ʼn Fiësta-toekenning bekroon vir lewenslange bydrae tot Afrikaanse teater. Sy is ook benoem vir ʼn Safta-toekenning vir haar rol in Skemerson.

Die konsert vind op 29 April plaas in die Rockwood-teater in Parkview, Pretoria. Kaartjies kos R350 per persoon. Besprekings kan gedoen word by www.rockwoodtheatre.co.za / 012 368 1555.

Die organiseerders van die konsert het ook ʼn hulpfonds vir Cawood gestig. Lesers wat die fonds wil ondersteun kan meer besonderhede op sosiale media kry.

Vir enige navrae bel Ronel Brink by 082 907 5203.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Agter die skerms..... ·

Sterkte Elize, wens ek het die geld gehad om jou te ondersteun. Ons sien jou in Binnelanders en sal daar en dan vir jou ‘n gebed opstuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.