One Direction-konsert: Ouerliefde ken geen perke nie.

One-Direction-2015-toer

Die manne van die groep, ‘One Direction’, het talle Johannesburgse tieners laat saam sing en skreeu. Foto: En.wikipedia.org

As dit daarop neerkom, sal ‘n ouer vir ‘n kind ‘n nier skenk. Of die bloedjie na ‘n One Direction-konsert neem.

Daar was die afgelope naweek baie sulke ouers toe dié Britse popgroep in Johannesburg se FNB-stadion kom optree het. Ouers wat nie ingesluit is wanneer die kinders selfies op hul fone geneem het nie. Wat nie die name van elk van die lede in die boy band geken het nie, behalwe dalk dié van Zayn Malik en ook net omdat hy in die nuus was nadat hy onlangs besluit het daar is net een rigting, en dit is uit die groep.

Daar was ook die ouers wat nie suiwer in die opwinding en afwagting kon deel nie, maar heimlik gehoop het die motor is veilig en gewonder het hoe lank dit gaan neem om na die konsert weer uit die stampvol stadium te kom. Daar was ook nie eers ‘n biertent om moedelose vaders lafenis te gee nie.

Maar, soos enige ouer al voorheen sou agterkom, is ouerskap vol sulke stukkies selfopoffering. En die One Direction-konsert was ’n goeie voorbeeld.

Die oorblywende jongmanne waaruit One Direction nou bestaan – Niall HoranLiam PayneHarry Styles en Louis Tomlinson – het Saterdag- en Sondagaand in hul doel geslaag om duisende jong tienermeisies lighoofdig te laat skreeu en skreeu. Geen hond in Soweto kan na die naweek weer dieselfde wees nie, want daar was sekere toonhoogtes wat net hulle sou kon hoor. Om nie te praat van die vuurwerk na die tyd nie…

Soos met baie boy bands voor hulle, het One Direction in hul kort loopbaan net-net genoeg treffers bymekaar gemaak om ‘n konsert aanmekaar te slaan wat jou nie verneuk laat voel oor die kaartjieprys nie.

Ouers wat moontlik in dieselfde stadion na U2, Bruce Springsteen en Bon Jovi geluister het, sal weet dat die ouer meesters met die teenoorgestelde probleem sit: te veel treffers vir een konsert.

Die punt is dat geen ware musiekliefhebber gaande oor One Direction sal wees nie.

Daar is geen lang en indrukwekkende kitaarsolo’s nie, geen vindingryke vermenging van style nie en die lirieke het so min voedingswaarde soos spookasem. As ‘n mens oor twintig jaar nog van hul liedjies oor die radio sal hoor, sal ek die eerste wees om my hoed te eet.

Maar vir die eintlike gehoor is hierdie van nul en gener belang. Om uiteindelik die groep lewendig te sien terwyl hulle radiotreffers soos Story of My Life, You and Me, The Best Song Ever en That’s What Makes You Beautiful gesing het, was genoeg. Voeg daarby die waarde van ʼn selfie op jou Whatsapp-profielfoto of Facebook om te sê jy was daar, en die sending was suksesvol.

Benewens musikale meriete is ‘n mens pynlik bewus van die jong outjies se gebrek aan lewensondervinding. Hulle was dalk al op vier wêreldtoere, maar hul gesprekke met die gehoor handel net oor hoe mooi Johannesburg is en hoeveel harder die gehoor raas as die vorige aand. Daar is niks wat ’n bietjie insig oor die land verraai nie.

Verder het hulle oor en oor gesê dat hulle sonder hul aanhangers nêrens sou wees nie, wat ’n feit soos ’n koei is. Daar was geen verwysing na Malik se skielike vertrek nie, al was sy afwesigheid so aanvoelbaar soos ʼn leë stoel aan die familietafel.

Hoe lank One Direction nog sal aanhou om ʼn treffermasjien te wees, sal net die tyd wys. Met Malik se vertrek kan ’n mens klaar begin bespiegel of dit die eerste haarfyn krakie is voor uiteindelike ineenstorting.

Maar oor hierdie sake het net ouers die naweek sit en wonder terwyl hul dogters in estrogeen-gedrewe koors elke woord van die groep se treffers nagesing het.

En soos enige ouer weet, is ‘n enkele hees “Dankie Mamma” genoeg om jou nog geld te laat uithaal om na die konsert ‘n peperduur ondersteuners-T-hemp aan te skaf…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

bert ·

Hahaha. Ek was daar. Met my 10 jarige. Dit was epies. 12 ure vandat ons die Park and Ride bus gevat het tot ons terug by die huis was. My ore was baie seer. Maar my prinsessie se jaar was gemaak. Lekker.

Desire ·

Jip my man was daar, ons 3 bloedjies gevat. Saterdag oggend 11:00 gery van die plaas af in Tzaneen, Limpopo. Hulle afgelaai, in die motor gesit en wag tot hulle kla is. Dadelik terug gery Tzaneen toe. Sondag 05:30 weer by die huis. Stadig gery, gestop vir eet en badkamer breuke. Wat n pa nie sal doen vir sy dogters nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.