Onthou die goue oues- Gerrie Pretorius

Suid-Afrikaners hou daarvan om nostalgies te raak.

Dit het duidelik geword toe kaartjies vir kunstenaars van gister soos veral Jennifer Rush en Bonnie Tyler sommer vinnig verkoop het toe hulle onlangs hier opgetree het. Daarby verkoop versamelalbums met treffers van weleer ook gewoonlik baie goed.

Gerrie Pretorius het in die verlede al groot sukses behaal met sy Bles Bridges-huldeblyk, asook met Swing, sy beste album tot dusver, waarop hy hulde aan onder meer Dean Martin en Frank Sinatra gebring het. Nou het hy weer ‘n album met gister se treffers, bekend as Onthou die goue oues, vrygestel, en dit lyk asof hy besig is om groot sukses daarmee te behaal.

Die eerste snit op die album is sy weergawe van Cora-Marie se treffer Gee haar ‘n roos. Dit klink nie sleg nie, maar hy sing “Gee haar in roos”, en dit is uiters hinderlik. Een van Bles Bridges se Engelse treffers as Fight for love, en ‘n mens kan nie verstaan hoekom dit nie weer op hierdie album ingesluit is nie. Home isn’t home anymore was een van Alan Garrity se groot treffers, en Gerrie het ‘n goeie opname daarvan gemaak. Gerrie het twee keurspele ingesluit. Die eerste een bestaan uit Sias Reinecke se groot treffer Sproetjies, Herman Holtzhausen se Trans-Karoo en Manuel Escorcio se belaglike Donkerbruin oë. ‘n Groot verrassing is Die ABC wat Gé Korsten in die musiekrolprent Hoor my lied gesing het. Daar is ook ‘n kinderkoor wat in die agtergrond sing, maar ‘n mens wens dat hulle duideliker gehoor kon word. Die volgende twee snitte was groot treffers in die vroeë 1970’s, naamlik We believe in tomorrow, wat op die wysie van Verdi se bekende Slawekoor geskryf is, en George Baker Selection se Baby blue. Daar is egter ‘n fout op die omslag; We believe in tomorrow is aangedui as Come what may, wat natuurlik deur Vicky Leandros gesing is. Los my alleen is deur Rina Hugo gesing, maar dit het half in die vergetelheid verdwyn. Adios amigo was een van ‘n hele aantal treffers wat Jim Reeves in Suid-Afrika gehad het.

Wenners was die titelsnit van Danie Botha se eerste album, en dis goed om ‘n nuwe opname daarvan te hoor. Tiny bubbles het eers ‘n treffer vir Billy Forrest geword nadat dit in ‘n advertensie gebruik is en iemand sy stem herken het. Vier woorde was ‘n treffer vir Louise Senekal en Jaco Pieterse (kan hul album nie asseblief op CD uitgereik word nie?), en Bles Bridges het dit ook later opgeneem. Gerrie se opname klink goed, maar dit sou soveel mooier gewees het as dit as ‘n duet saam met ‘n vrouekunstenaar gesing is. Die volgende snit is ‘n walskeurspel wat bestaan uit Kruidjie-roer-my-nie, Stille rivierstroom en When Irish eyes are smiling. Picking up pebbles is in 1968 deur Cornelia opgeneem, en dit was ‘n nr. 1-treffer. Gerrie se opname klink goed, enhy sukkel nie met die hoë note nie. Gerrie het BZN se treffer Yeppa saam met Rudi Claase se voormalige sangmaat Zita Pretorius opgeneem. Gelukkig sukkel Gerrie met die Franse woorde nie, maar nugter weet hoekom dit ‘n treffer hier was.

Jy sal sommer van die begin af weet of jy van hierdie album sal hou of nie. Die feit dat dit so gewild geword het, is ‘n aanduiding dat daar baie mense dink dat dit die moeite werd is.  Dis jammer dat daar soveel bekende liedjies is wat in keurspele ingesluit is; dit sou beter gewees het as daardie liedjies in  hul geheel opgeneem is.  Benewens die een snit wat kritiek verdien, is daar egter nie veel met Gerrie se vertolkings verkeerd nie.  Hoe ook al; as jy van ou musiek hou, sal jy hierdie album geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.