Ontmoet Carla Oberholzer

Carla-Oberholzer-02

‘n Skermskoot uit die video.

Toe Heuning vroeër vanjaar ʼn treffer met “Drome” gehad het, het die musiekbedryf vir die eerste keer kennis gemaak met die komponis van daardie liedjie, Carla Oberholzer.

Carla  het sedertdien ook ʼn paar snitte van Amor Vittone se jongste album, Die tyd is nou, geskryf, onder meer die treffersnit, “Alles net oor jou.” Sy het ook begin om haar eie stempel in die musiekbedryf af te druk, en haar debuut-enkelsnit, “Jy los my alleen”, klim tans teen die trefferlyste van verskeie radiostasies, asook dié van Maroela Media, uit. Die musiekvideo van hierdie snit is gereeld op kykNET te sien, en haar debuutalbum sal vroeg aanstaande jaar vrygestel word. Carla beskou haar klank as volwasse kontemporêre popmusiek.

Carla beskou haarself as ʼn doodgewone boeremeisie; sy is oorspronklik afkomstig van die Vrystaat, maar woon tans in Pretoria. Sy is ʼn ambassadeur vir die Reik na ʼn droom-veldtog, wat daarna streef om die lewensdrome van kinders met lewensbedreigende siektes te verwesenlik. Sy was verlede maand deel van die 717-droomspan – sewe mense wat ʼn afstand van 717 km tussen Centurion en Durban met fietse gery het om geld vir dié veldtog in te samel. Televisiekykers landwyd het van haar kennis geneem toe sy op die Groot Ontbyt op kykNET elke dag hieroor verslag gelewer het.

In haar vrye tyd hou Carla van teiken skiet, veldmotorfiets ry en visvang. Sy is lief vir mense oor die algemeen, maar veral ook vir kinders. Sy probeer ook om elke dag ʼn liedjie te skryf.

Hieronder is ʼn kykie agter die skerms na die vervaardiging van die musiekvideo van haar enkelsnit, “Jy los my alleen”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.