Video: Ontmoet die Karoo-manne met die ‘windpomp-rockmusiek’

Die Van der Aven-manne, Theunis van der Merwe, Paul Avenant en Roelof van der Merwe. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Toe Paul Avenant en sy vriende, broers Roelof en Theunis van der Merwe, destyds saam musiek begin maak het, het hul twee beloftes aan mekaar gemaak.

Eerstens dat hul musiekdroom hulle nooit platsak moet maak nie en tweedens dat hulle dié ervaring altyd, altyd saam moet geniet.

Ses jaar later sing dié drie Karoo-manne steeds in perfekte harmonie saam en is hulle gerat om die Afrikaanse musiekbedryf as die multi-instrumentale folk-rock-groep Van der Aven te takel.

Die groep se eerste Afrikaanse enkelsnit, “Heimwee”, pronk tans op verskeie trefferparades en is gebore uit Roelof, die jongste Van der Merwe-broer, se internetsoektog na die Afrikaanse woord vir homesick terwyl hy tydens die inperking alleen in ʼn woonstel in Stellenbosch gebly het.

Hy kom toe af op JRL van Bruggen se gedig “Heimwee” af.

“Die gedig se woorde was vir my so relevant vir daardie tydperk en het my gevoelens perfek opgesom. Ek gryp toe my kitaar en in minder as ʼn dag is ons eerste Afrikaanse enkelsnit gebore.”

Roelof van der Merwe. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die lied se rou, akoestiese klank word saam met die drie manne se twee- en driestemmige harmonieë saamgeweef om nuwe lewe in dié gewilde gedig te blaas.

Hulle vind toe ook eers daarna uit dat dié einste gedig al deur Mimi Coertze sowel as Coenie de Villiers in sangformaat opgeneem is. Van der Aven se “Heimwee” dra egter De Villiers se goedkeuring weg en is boonop toevallig twee dae na Coertze se 90ste verjaarsdag vrygestel.

Die groep se eerste kortspeelalbum word in Oktober uitgereik en bevat nuwe Afrikaanse liedjies, sowel as twee Engelse liedjies wat onder hul vorige naam, Brother Brother, opgeneem is.

Die Van der Merwes het op ʼn plaas tussen Beaufort-Wes en Murraysburg grootgeword terwyl Avenant van Murraysburg af kom.

“Ons kom toe agter dat ons toevallig in ‘Karoo-terme’ ʼn klipgooi van mekaar af grootgeword het en baie gemeenskaplike vriende het,” vertel Theunis, die oudste van die twee Van der Merwe-broers.

Die groep het mekaar egter eers na skool deur die Groote Kerk in Kaapstad ontmoet en het stelselmatig saam musiek begin maak en optree as Brother Brother. Hulle het soos baie ander groepe ook ʼn klein begin op verhoë by troues, feeste en restaurante in die Wes-Kaap gemaak. “Ons het aanvanklik baie meer Engels gesing om vertonings vas te maak en aanklank by die Kaapstadse gehore te kry – wat maar baie Engels is,” verduidelik Theunis.

Die Afrikaanse legende Karin Zoid het in 2020 egter ʼn groot rol in die groep se naamverandering en hul skuif na Afrikaans gespeel toe hulle die Texx and the City Band or Bust-kompetisie by die Toyota US-Woordfees in Stellenbosch gewen het.

Van der Aven (toe nog Brother Brother) is eenparig uit 250 inskrywings deur die beoordelaars Zoid, Theo Crous, Wynand Myburgh en Tecla Ciolfi as die wenners aangewys.

Paul Avenant. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Zoid het die groep se potensiaal as ʼn Afrikaanse alternatiewe groep raakgesien en hulle aangemoedig om hul naam te verander en meer Afrikaanse musiek te maak.

Daarna het al hoe meer deure vir die drie Karoo-manne begin oopgaan en ondanks die uitdagings wat die Covid-19-inperking teweeggebring het, het hulle tot op hede al die verhoog met name soos Zoid, Spoegwolf, Kaleidoskoop, Jack Parow, Albert Frost, Mel Botes, Joshua Na Die Reën en vele meer gedeel.

Hulle het selfs op Spoegwolf se hoofsanger, Danie du Toit, se troue vroeër vanjaar in die Paarl gesing.

“Danie-hulle het ons ook nou onder hulle vlerk geneem en gee ons die geleentheid om by van hul vertonings vir hulle te open; hulle help en lei ons ongelooflik baie,” vertel Roelof.

Oorsese groepe soos Mumford and Sons en The Lumineers, asook die skryfstyl van Die Heuwels Fantasties se Hunter Kennedy, dien as die groep se inspirasie.

“Ons is natuurlik ook baie trots om die Karoo as ʼn streek te verteenwoordig en sy naam hoog te hou. Ek noem ons styl sommer Windpomp-rock,” sê Avenant skertsend.

Theunis van der Merwe. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hoewel daar Engelse liedjies op hulle jongste album gaan verskyn, is die groep baie passievol en opgewonde om hul Afrikaanse skryfvaardighede te slyp.

“Afrikaans is ons moedertaal, so dit voel meer eg en eerlik vir ons as musikante om onsself daarin uit te leef,” sê Theunis.

“Dis ook maklik om Afrikaanse musiek oppervlakkig te maak en net ʼn woord in te gooi om dit te laat rym. Dit sit nie in almal se broek om goeie Afrikaanse musiek te skryf nie, so ons besef watter verantwoordelikheid daar teenoor die taal is om gehalte-musiek te maak,” meen Roelof.

Die groep woon almal tans in die Wes-Kaap en pak hul musiekdrome vir nou deeltyds aan.

Theunis het onlangs sy MBA-kwalifikasie verwerf en vertel dat hy en sy vrou die trotse ouers van ʼn babaseuntjie is, terwyl kleinboet Roelof onlangs sy meestersgraad in chemiese ingenieurswese verwerf het. Avenant fasiliteer djembe-dromkringe in en om Kaapstad deur sy besigheid Ubuntu Jams en sy vrou werk as ʼn musiekonderwyser by ʼn laerskool.

“Ons benader Van der Aven soos ʼn nuwe besigheid. Dit verg baie energie en tyd en gaan nie noodwendig oornag ʼn sukses wees nie. Ons fokus daarop om ons drome uit te leef, hard te werk en sien uit na wat die toekoms vir ons inhou.”

Maroela Media wou die manne van Van der Aven ʼn bietjie beter leer ken en besluit toe om “As die vellie pas” te speel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.