Ontslape Afrikaanse sangeres se liedjie afgestof

Douw Steyn, seun van die ontslape Christa Steyn, het die Afrikaanse kunstenaars Joshua na die Reën en Lizandra Winter geprys vir ʼn duet-weergawe van sy ma se liedjie “Ek wil vir jou”.

Steyn het Woensdag gesê die kunstenaars se vertolking van dié liedjie bring vir hom “groot vreugde”.

“Ek wil vir Joshua en Lizandra gelukwens met hulle vertolking van ‘Ek wil vir jou’. Dit verskaf my groot vreugde dat hulle die liedjie hul eie gemaak het – en dit sonder om die kern daarvan te verander. Ek is gaande oor hoe hulle die melodie net ’n raps hier en daar gebuig het om hulle eie kleur daaraan te gee. Die verwerking en eenvoud van die klavierpart is waarlik treffend. Buiten dat beide pragtige stemme het wat saam goed klink, werk dit omdat hulle vertolking so eerlik is.  My ma sou mal daaroor gewees het.”

Lizandra vertel die idee vir dié duet het ontstaan terwyl sy en Joshua in 2015 saam op toer was. Die twee sangers stap al ʼn lang pad saam en het besluit om dié liedjie van die ontslape sangeres vanjaar uit te reik.

“Ons het destyds sommer gesels oor legendes in die musiekbedryf en oor hoeveel kosbare liedjies deel vorm van die geskiedenis van Afrikaanse musiek. ‘Ek wil vir jou’ was onder meer een van my gunstelinge en ek het genoem dat ek dit graag eendag sou wou opneem. Toe ek in 2016 besig was om aan my solo-album te werk het ek vir Jacques [Joshua se regte naam] gesê dat ek graag die liedjie as ʼn duet saam met hom wil opneem. Hy was  baie opgewonde oor die idee,” vertel sy.

Hoewel die kunstenaars aanvanklik ʼn “ander rigting met die liedjie wou inslaan”, het die verwerking van die liedjie elke keer geëindig op ʼn ballade met ʼn klassieke gevoel, meen sy.

“Ek dink Jacques se klavier en harmonisering het die liedjie ʼn unieke en nuwe kleur gegee.  Dit is so ʼn voorreg om ʼn legende se liedjie te kan sing.”

Joshua het die opname van dié duet as ʼn “groei- en leerproses” bestempel.  “Dis ʼn proses wat ek met uiterste respek en dankbaarheid koester.  Om saam met Lizandra ʼn duet te kon opneem is vir my ʼn voorreg, nie net omdat ek haar ag as een van die mees talentvolle mense wat ek ken nie, maar omdat ek die hart ken agter dit wat sy skryf en sing.”

“Ek wil vir jou” is beskikbaar op Lizandra se debuutalbum, Lizandra Winter, en op iTunes.

Vir meer inligting, besoek Lizandra Winter of Joshua na die Reën se amptelike Facebook-blaaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.