Op aanvraag- Juanita du Plessis

 

Op aanvraagTeen die einde van verlede jaar het Juanita du Plessis deur verskeie stede van die Verenigde State van Amerika gereis op soek na die geskiedenis van country-musiek.

Die gevolg hiervan was die televisiereeks Country-hart, wat op kykNet uitgesaai is. Die idee was dat sy van haar groot treffers in die verskillende style waaraan sy blootgestel sou word, moes opneem. Die amptelike temaliedjie is die enigste snit op die CD wat sy nie allen geskryf het nie. Die volgende snit is die eerste een wat sy in ‘n country-styl opgeneem het. Jy is was die titelsnit vanaf een van Juanita se suksesvolste albums, en hier speel The Nashville Allstars saam met haar in wat as Moderne Country bekendstaan. Boerejol word saam met The White Top Mountain Band in die Old Mountain Music-styl gesing, en dit klink sommer baie goed!  Ska-rumba was natuurlik Juanita se eerste treffer, en dit klink sommer heeltemal anders wanneer sy dit in die Zydaco- en Cajun-styl saam met The Pine Leaf Boys sing. Ek laat jou gaan is een van Juanita se minder bekende treffers, en die blues-styl, waarin BB King’s Allstar band dit saam met haar speel, klink baie goed. Kaalvoetkind was seker die grootste treffer vanaf haar Juanita se laaste album, Jy voltooi my. Twee van Juanita se kinders, Ruan en Franja, sing saam met haar, en die Honky tonk-styl, met Amanda Cevallos as gaskunstenaar, wyk nie te veel af van die oorspronklike opname nie.

Junaita het natuurlik ook al drie Christelike albums opgeneem, en Ons Koning kom, wat sy in die Suidelike Gospel-styl saam met The Riverside Choir sing, klink baie mooi. Hier kom ‘n mens ook agter dat sy dit in die eerste plek saam met ‘n koor moes opgeneem het. Bly by my klink sommer heeltemal anders as dit in die Bluegrass-styl gesing word; die ritme is byvoobeeld baie vinniger as wat ‘n mens gewoond is. Asleep at the wheel is ‘n bekende Amerikaanse groep wat al ‘n aantal Grammy-toekennings gewen het; Junaita sing Lepellê saam met hulle in die Wstern swing-styl. Rockabilly is ‘n musiekstyl wat  groepe soos Creedence Clearwater Revival en Dire Straits al jare gelede bemeester het, en sy sing Mengelmoeskadroes in hiedie styl saam met The Pine Leaf Boys, wat ook op Ska-Rumba saam met haar gespeel het. Ricus Nel het ‘n deel van die toer saam met haar meegemaak, en sy sing Ek is jammer in die country-pop-styl saam met hom.  Red dirt, die styl waarin sy Dis mos die lewe saam met The Buckaroos sing, pas dié liedjie baie goed. Die laaste snit is Ons belofte aan mekaar, wat Junaita saam met haar man, Doepie, geskryf het. Sy sing dit as ‘n country-ballade saam met The Nashville Allstars.

Saam met hierdie album word Junaitase vorige album, Jy voltooi my, ook ingesluit. Hierdie album het ‘n spul treffers opgelewer, onder meer die titelsnit, Om jou pinkie, Huppel, Kaalvoetkind, Ek laat jou gaan en Pot se deksel. Hierdie album was baie gewild, en die meeste van Juanita se aanhangers het dit sekerlik ook in hul CD-versamelings. Die vraag is; wat doen jy met jou ekstra eksemplaar van Jy voltooi my as jy dit reeds het en nog net die country-album wil hê?

Hoe ook al, dis goed dat Juanita haar musikale horisonne verbreed het. Met hierdie album en televisiereeks  stel sy die Suid-Afrikaanse publiek bloot aan musiekstyle wat hulle andersins dalk nooit sou geken het nie, en dit is lekker om haar bekende treffers van voor af te hoor. Hoewel Juanita met elke nuwe album wat sy vrystel, groot sukses behaal en jy byna nooit weet of jy ‘n kommersiële album,  ‘n Christelike album of ‘n nuwe album saam met Theuns Jordaan kan verwag nie, sal dit goed wees as sy ‘n oorspronklike album kan vrystel waarop sy hierdie musiekstyle verder voer. ‘n Mens weet natuurlik nie of die publiek ontvanklik vir hierdie nuwe klanke sal wees nie, maar as Juanita se naam daaraan gekoppel word, sal dit dalk net ‘n sukses wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.