Opinie: Ondersteun  jou span, maar…

rugby-springbok-logo-groot

Argieffoto.

Ons almal het grootgeword met sportliedjies waarmee ons nie net ons skole se atlete ondersteun het nie, maar ook vir die ander spanne gesê het wat ons van hulle dink.

In 1968 het The Bats met iets heeltemal nuuts vorendag gekom.  Toe die Springbok-rugbyspan daardie jaar in Frankryk gaan toer het, het hulle die eerste rugbyliedjie in Afrikaans, naamlik “Groen en  goud”, opgeneem. Hulle het Springbok Radio se Top 20 gehaal, maar snaaks genoeg het dit lank geduur voordat daar  weer ʼn soortgelyke liedjie verskyn het.

In 1981 het die Springbokspan deur Nieu-Seeland gaan toer en David Kramer het “Haak hom Blokkies”, wat oor ʼn fiktiewe rugbyheld van weleer gehandel het, vrygestel kort voordat die toer sou plaasvind.  Die Springbokke het blykbaar ʼn eksemplaar van die kortspeler saam met hulle geneem en dit het die eerste plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal gedurende dieselfde naweek wat die laaste toets van daardie toer teen die All Blacks plaasgevind het.

Op daardie stadium het Leon Schuster al by die SAUK as omroeper gewerk . Toe die Britse Leeus in 1980 hier kom toer het, het hy die liedjie “Morné” op die wysie van Harry Belafonte se bekende “Day-O” (The banana boat song) opgeneem, maar sy eerste volledige langspeelplaat het eers twee jaar later verskyn.

Die een langspeelplaat na die ander het verskyn en ʼn mens kon met “Ekke boo” (op die wysie van Black Lace se bekende “Agadoo”) agterkom dat Leon nie huiwer om skeidsregters te kritiseer as hulle sy span straf nie.

Met die Wêreldbekertoernooi in 1995 het Leon die album Hie’ kommie Bokke vrygestel en dit het blykbaar die gewildste album in die geskiedenis van die plaaslike musiekbedryf geword.  Die hele Suid-Afrika het saamgesing en die Springbokke het die Wêreldbeker gewen. Die lirieke van die titelsnit, asook ʼn paar ander, het lirieke bevat wat neerhalend teenoor ander spanne was. Een voorbeeld hiervan is (op die wysie van die bekende Italiaanse lied Volare) “Wolhare, wolkop, Italiane kan nie skop.”

Nog ʼn kunstenaar wat hom al hieraan skuldig gemaak het, was Robbie Wessels.  Met sy debuutalbum tien jaar gelede het hy ‘n liedjie opgeneem waarin hy Piet van Zyl se optrede tydens ʼn rugbytoets goedgepraat het. Van Zyl het tydens ʼn toets die skeidsregter laaggevat en is in sommige kringe as ʼn held beskou.  Robbie se liedjie hieroor, op die wysie van Carike Keuzenkamp se treffer “Byeboerwa”, het ʼn aantal vloekwoorde bevat.  Op sy jongste album het Robbie die liedjie “All Blacks teen die All Blacks” ingesluit waarin hy beswaar maak teen kwotas in rugbyspanne.

Daar is nog meer sulke voorbeelde, maar dit sal nie moontlik wees om elkeen te noem nie. Hoe ook al, op hul nuwe rugbyliedjie, “Staan op vir die Groen en Goud”, sing Eden die volgende: “Dit vat ʼn man, nie ʼn muis, om ʼn toffie vir die Haka te wys.”  Enige objektiewe rugbyondersteuner sal saamstem dat die Haka een van die mooiste tradisies in wêreldrugby is.

Soos wat ek aan die begin gesê het, het ons op skool al geleer om sportliedjies te gebruik om die opposisie sleg te sê, ten spyte van onderwysers se pogings om dit stop te sit.  Dit lyk asof party mense nooit hierdie mentaliteit ontgroei nie, want dit kom deesdae in al hoe meer rugbyliedjies voor.  Natuurlik moet Suid-Afrikaanse kunstenaars die Springbokke ondersteun, maar sonder neerhalende taalgebruik.

Twee rugbyliedjies wat baie goed hierin slaag, is “Ons vir jou Suid-Afrika” van Bok van Blerk en Robbie Wessels en Jakkie Louw se pragtige nuwe liedjie “Van toeka tot nou”.  As jy iemand anders se kers doodblaas, beteken dit nie dat joune helderder sal brand nie. Hoe gouer Suid-Afrikaanse kunstenaars en rugbyliefhebbers dit besef, hoe beter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.