Die Oppiwater Kunstefees, die enigste kunstefees ter wêreld wat op ʼn plesierboot aangebied word, word vanjaar vir die vyfde agtereenvolgende jaar tussen 15 en 20 April aangebied.
Dié musiekfees word vanjaar weer aan boord die luukse MSC Sinfonia-reisboot aangebied en vaar vanjaar vanaf Durban na Mosambiek.
Feesgangers word vanjaar nes in die verlede vermaak met meer as 20 verskillende Afrikaanse produksies wat kunstenaars soos Anna Davel, Coenie de Villiers, Pieter Smith en Edrien Erasmus insluit.
Coenie de Villiers is vanjaar te sien in die produksie Tien Vingers waar hy die vleuelklavier speel en liedjies sing, terwyl Chris Chameleon en Daniella Deysel beloof om feesgangers te betower met hul multimedia- musikale projek, Kat en Wolf.
As jy dalk meer hou van ʼn interaktiewe vertoning, is karaoke saam met die RSG-omroeper Ettienne Ludick moontlik die regte keuse vir jou.
Lizz Meiring se produksie Met ander woorde, Alwyn Oberholster se Goue Oues, Hans du Plessis en Randall Wicomb se Voete van ʼn gemsbok en Christo Snyman se Nostalgie beloof veral ook om hoogtepunte tydens die fees te wees.
Buiten vir die unieke Afrikaanse produksies, is daar ook talle ander hoogtepunte. Feesgangers wat dié fees bywoon kan vanjaar uitsien na garnale by die legendariese Polano-hotel in Maputo, middagete op ’n strand op Portugese eilande én ʼn besoek aan Pomene in Mosambiek voordat die skip terug na Durban vaar.
Vir meer inligting oor die fees en ʼn volledige lys van produksies wat te sien gaan wees, besoek die Oppiwater Kunstefees se Facebook-blad.
Sou dit so graag wou meemaak maar ai…$ is min