Opwindende 2015 vir Colé van Dais

Colé-van-dais

Colé van Dais. Foto: Colevandais.com

Nadat Colé van Dais in 2014 ʼn gaskunstenaar op die televisieprogram Noot vir noot was, het sy nóg groter sukses in 2015 behaal.

Tussen haar studie by die Richard Branson School of Entrepreneurship deur is sy, as die enigste kunstenaar wat nie aan Eurovision verbonde is nie, gekies om by die Euro-klub in Kopenhagen, Denemarke, op te tree as deel van die Eurovision-liedjiekompetisie se 2014-feesviering. Dit was deel van dieselfde vertoning waaraan die wenners van die verskillende lande deelgeneem het.

Sy het ook baie van die deelnemers ontmoet, onder wie Conchita Wurst van Oostenryk wat die kompetisie daardie jaar gewen het. Sy het besluit om saam met hulle te werk aan ʼn duetalbum saam met verskeie oorsese kunstenaars, onder andere Eurovision-deelnemers.

Op hierdie CD, wat binnekort beskikbaar gaan wees, sing Colé onder meer ʼn duet saam met Gbenga Adenuga, ʼn gewilde Nigeriese sanger. Hierop sing sy in Afrikaans, asook in Joroeba, ʼn inheemse Nigeriese taal. Nog ʼn snit op die album is ʼn duet saam met De Jorans van Letland; hulle sing die wenliedjie van die 1975-kompetisie, “Ding-a-dong”, wat oorspronklik deur die Nederlandse groep Teach-In gesing is, in Afrikaans en Letties, die inheemse taal van Letland. De Jorans was die hoofsanger van die groep Aarzemnikie wat in 2014 aan die kompetisie deelgeneem het.

Seker die belangrikste snit op die album is ʼn duetweergawe van die 1997-wenliedjie, “Love shine a light”, saam met Katrina Leskanich, die hoofsangeres van Katrina and the Waves, wat dié liedjie oorspronklik opgeneem het. Hulle word ondersteun deur die Sarafina-koor van Soweto. Daarby sing sy ook verskeie duette saam met Suid-Afrikaanse kunstenaars, onder andere die akteur en sanger Emmanuel Castis en Keith McFarlane, wat in die 1980’s lid van die Suid-Afrikaanse popgroep Face to Face was.

Die naam van dié liedjie beteken “Ek het vreugde” en dit is juis Colé se passie om geluk en liefde deur middel van musiek aan mense oor te dra.

Saam met Roy van der Merwe, die president van die OGAE Rest of the World, die algemene organisasie vir Eurovision-aanhangers, en Ian Fowell, ʼn Britse joernalis, het Colé ook bygedra as liriekskrywer vir een van die liedjies van die Top-10-finaliste van Belarus vir die 2016-kompetisie. Die liedjie is getiteld “Turning around” en word deur twee 20-jarige sangers van Belarus gesing.

Kyk hier na Colé se optrede op Noot vir noot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.