Opwindende nuus vir Karen Zoid-aanhangers

Karen Zoid foto

Karen Zoid.

Karen Zoid se eerste Afrikaanse vollengte-solo-album in ses jaar, getiteld Op die oomblik – deel een, word eersdaags uitgereik.

Zoid het met haar kletsprogram op kykNET, Die Republiek van Zoid-Afrika, vier samewerkingsalbums vir dié program en 27 toptreffers op iTunes, sukses behaal.

Zoid se nuwe album, met sewe snitte, is die eerste deel van drie verskillende hoofstukke in Zoid se nuwe liedjieboek. Zoid se gelaaide rock-energie en haar vermoë om ook onvoorspelbare en selfs die mooiste delikate liedjies te skryf, raak al vir jare aan TV- en konsertgehore se harte – én senuwees! Hierdie diversiteit wys op die album soos die liedjies wissel tussen klassieke rock, kragtige ballades, asook tong-in-die-kies- en diep, sielvolle komposisies, in ware Zoid-styl.

Zoid en haar groep, Schalk van der Merwe, Henry Steel en Tim Rankin, speel al sewe jaar saam. Hulle het verlede jaar saam met Kyle Petersen op klavier begin werk en Kyle het ook saamgeskryf aan die eerste enkelsnit, Vir Jou. Volgens Zoid is dié eerste enkelsnit wat op Vrydag 4 Augustus op iTunes uitgereik word, ʼn liefdeslied vir grootmense.

“Ware liefde is iets wat eers werklik waardeer kan word deur iemand wat al ʼn paar myl afgelê het op hierdie besoedelde albastertjie,” sê Zoid. “Die teenwoordigheid van liefde is vir my die werklike bewys dat ons nie alleen is in die heelal nie.”

Sy sê dat, al is die Suid-Afrikaanse musiekbedryf tans in ʼn sogenaamde “enkelsnit-era”, is die maak van ʼn album nog steeds vir haar meer vervullend. “Ek wil graag deel voel van die huidige era, eerder as om te veg of maak asof dit nie so is nie. Gewoonlik skryf ek 20 of 30 en dan kies ek die “beste” 12 of so om ʼn album saam te stel,” sê sy.

“Met hierdie liedjies het ek besluit om die eerste paar liedjies wat ek skryf net te voltooi en dadelik op te neem. Ek wil die oomblik vasvang al weet ek dis onmoontlik. Ek is besig om te probeer. Ek wil dit beskryf en verken en ten volle ervaar. Dis ook nie net ons musiekwêreld wat in ʼn ‘enkelsnit-era’ is nie, die hele wêreld is eintlik ook. Iemand sê iets in Amerika en dit raak die hele Midde-Ooste. Oombliklik.”

Benewens die uitreiking van die album, is daar ook nog twee opwindende datums om na uit te sien. Op 20 Augustus saai kykNET en ShowMax ʼn kortfilm van Zoid uit. Die film is ʼn visuele album.

Op 24 Augustus maak Zoid dan ook weer geskiedenis deurdat sy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenares gaan wees wat dié visuele album op iTunes gaan uitreik. Internasionale kunstenaars wat al soortgelyke visuele albums uitgereik het, sluit Beyoncé, Drake en Brad Paisley in.

Op die oomblik – deel een sal vanaf 11 Augustus op iTunes beskikbaar wees en vanaf 1 September op die rakke beskikbaar wees in musiekwinkels landwyd. Al sewe liedjies word Vrydagaand 11 Augustus lewendig op RSG uitgesaai. Skakel in vanaf 20:00 op 100-104fm of DStv-kanaal 813.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ben ·

Karen is great, maar ook ongelooflik over-rated. Kan iemand asseblief vir haar geld gee om a nuwe paar bootse te koop. Sy trek nou al vir 4 jaar dieselfde bootse aan, op elke liewe vertoning of geleentheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.