Orrelspeler samel geld in met musiekmarathon

Franz Geldenhuys en sy orrel, Gunther. (Foto: Verskaf)

Die afgelope naweek het ʼn marathon van ʼn ander kleur in Vanderbijlpark plaasgevind: ʼn Orrelmarathon waartydens 160 musiekstukke ná mekaar in die NG kerk Driehoek gespeel is.

Franz Geldenhuys, orrelspeler en musikant van Vanderbijlpark, vertel aan Maroela Media dat hy met die marathon geld wou insamel om sy pyporrel – wat hy Gunther gedoop het – te laat versien.

“Gunther is deel van die gemeente en moet ʼn paar operasies ondergaan om weer in topkondisie te wees,” vertel Geldenhuys.

Dié geldinsamelingsprojek het vrugte afgewerp en Gunther kan nou versien word.

“Ons wil nou elke jaar die marathon aanbied sodat ons die geld wat ingesamel word, kan aanwend om ander orrels in die omgewing by sukkelende gemeentes in stand te hou.”

Die orrelmarathon het Saterdag 07:00 afgeskop en om 19:00 geëindig. Geldenhuys vertel hy en Gunther moes 194 werkure insit om die program te kon aanbied.

Franz Geldenhuys het met ‘n musiekmarathon geld ingesamel om die NG Kerk Driehoek se orrel te laat diens. (Foto: Verskaf)

“Die program het uit verskillende genres bestaan. Ek het ligte stukke soos ‘The Phantom of the Opera’ ook gespeel om die gehoor bewus te maak dat ʼn orrel nie net vir gemeentesang gebruik kan word nie.

“Ek wou mense bewus maak van die ongelooflike instrument wat ʼn orrel is.”

Die eerste orrelmarathon in die Vaaldriehoek het sowat 30 jaar gelede plaasgevind onder leiding van Margaret van der Vegt.

“Sy was my orreldosent en het die wonderlike wêreld van orrelspel vir my oopgemaak.”

Geldenhuys sê die gemeente van die NG kerk Driehoek het ongelooflike ondersteuning aan hom gebied om die projek van stapel te stuur.

“Tydens die marathon het ons ʼn basaar in die kleine aangebied, asook ʼn teetuin wat heeldag oop was vir lede van die publiek. Almal wat betrokke was, het die hele dag baie hard gewerk.”

En net soos ʼn atleet wat ʼn marathon voltooi het, het hy “met spierpyne, stukkende skoene en bene wat nie meer wou nie” die eindstreep gehaal, skerts Geldenhuys.

“Wat ʼn voorreg was dit om hierdie projek aan te pak! Hoewel ek ongelooflik moeg was, was dit ʼn wonderlike dag. Ons moet weer gemeentes oor die hele land heen bewus maak van hierdie ongelooflike instrument.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom ·

Iemand wat op ‘n orrel speel is ‘n “orrelis” (manlik) of “orreliste” (vroulik). Gebruik asseblief die regte beskrywings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.