Oud-SA’ner in NS slaan toekenning los met Afrikaanse radioprogram

Karisma Nel met haar toekenning (Foto: Facebook)

Drie jaar gelede het die Suid-Afrikaans gebore radio-omroeper Karisma Nel ʼn Afrikaanse radioprogram in Nieu-Seeland begin wat as ʼn kuier- en saamkomplek sou dien vir die duisende Suid-Afrikaners wat vandag in dié land woon. Nou is dié program onlangs met ʼn gesogte toekenning vereer.

Nel, wat reeds op tienjarige ouderdom saam met haar ouers en ouer broer na Nieu-Seeland verhuis het, sê sy het destyds besef hoeveel Suid-Afrikaners daagliks terugverlang na die ryk en diverse kultuur in Suid-Afrika, en daarom besluit om dié radioprogram te begin sodat Suid-Afrikaners in die buiteland daagliks steeds dié kultuurskat kon beleef.

Haar program – eers getiteld Lekker Luister en deesdae Lekker Stuff – skep ʼn platform waar Suid-Afrikaners hul stories kan deel en luister na die jongste in Afrikaanse musiek en televisieprogramme. Sy sê Lekker Stuff is ook ʼn platform waar Afrikaans én die Suid-Afrikaanse kultuur gevier word.

“Ek het uitsaaiwese by die School of Radio in Nieu-Seeland studeer omdat ek nog altyd lief is vir mense, kultuur en musiek – en ek boonop baie praat,” vertel sy. “Ek het grootgeword met RSG wat in my kinderjare altyd in my ouers se huis sou speel. Oor die jare het ek ʼn passie daarvoor gekweek; dit bied vir my ʼn platform om my kreatiwiteit uit te leef.”

Kort ná haar opleiding het Nel van Tauranga na Hamilton verhuis waar sy vandag steeds woon. Nadat sy ʼn ruk lank as vryskutomroeper by ʼn stasie betrokke was, het sy ʼn Engelse program aangebied.

Nel sê dit was die groot Afrikaanse gemeenskap in Nieu-Seeland se verlange na hul geboorteland wat haar oortuig het om in Afrikaans te begin werk. “Ek het besef hoe groot die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die land is en hoe honger hulle vir kultuur is. Ek het toe my eerste Afrikaanse radioprogram, Lekker Luister, begin. Ná ʼn jaar van Lekker Luister het ek in ʼn hoek gedruk gevoel; ek wou meer vir die gemeenskap bied as net ʼn bietjie gesels, musiek en nou en dan ʼn onderhoud met ʼn bekende wat toer in die land.”

Karisma Nel (Foto: Facebook)

Lekker Luister het tot ʼn einde gekom, maar Lekker Stuff is in 2017 gebore. “Dís die platform waar ons stories deel en ons kultuur vier. Ek het ook twee nuwe aspekte bygevoeg: LekkerTV, ʼn videokanaal op YouTube en Facebook, gaan binnekort sy vlerke sprei. Ek reël nou ook geleenthede, soos onder meer Radioraps se konsert vroeër die maand, en geniet dit vreeslik baie.”

Sy was “oorbluf” om die toekenning vir die beste musiekprogram by die Nieu-Seelandse radiotoekenningsgeleentheid te verower.

Lekker Luister was twee jaar gelede ʼn finalis, maar dié jaar was die eerste keer dat ek gewen het. Daar is soveel talentvolle mense daar buite wat hard werk. Ek is nog altyd ʼn baie nederige mens. Ek dink nie mens kan so iets ooit verwag nie, maar dit was ʼn wonderlike gevoel toe die toekenning aan my oorhandig is.”

Nel se ouers het ook ʼn paar jaar gelede ʼn Suid-Afrikaanse winkel, The Lekker Shop, in Nieu-Seeland geopen. Plaaslike inwoners is glo gaande oor dié winkel. “Ons verkoop al die lekker Suid-Afrikaanse dinge wat mens mis wanneer jy oorsee woon. Ek is betrokke by die bemarking en promosiewerk vir die besigheid,” vertel sy.

Sal sy terugkeer na Suid-Afrika? “Ek is nie seker of ek ooit permanent sal terugkeer nie,” sê sy. “Maar ʼn mens mis jou familie – en veral die reuk van bosveld. Dit kan ek wel sê: Afrika sal altyd deur my are vloei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mien ·

Baie geluk met jou toekenning Karisma. Lekker om te hoor dat daar jongmense in die vreemde is wat nog vashou aan ons taal en kultuur.

JLS ·

Nog n afrikaanse Spanjaard! Ek self bly nou al vir 8jaar in Spanje!

Kaufman ·

Dankie wat jy vir ons mense doen. Jy gaan nog baie ver kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.