Oudtshoorn skud vere reg vir KKNK

Juanita du Plessis. (Foto: Verskaf)

Voorbereiding vir die 28ste jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn is in volle swang, en die Feesmark, oftewel die feesterrein, beloof om oudergewoonte daagliks van vroegoggend tot laataand ure se pret, vermaak en samesyn vir die hele gesin te verskaf.

Die Feesmark word ingerig in die gebied om die De Jager-sportsentrum in Voortrekkerweg en word ondersteun deur Huisgenoot.

ʼn Hele rits van Suid-Afrika se voorste musikante en sangers skud vanjaar vir die eerste keer hulle vere reg om op die Feesmark-verhoog te verskyn. Dié lys sluit in gewilde sangers soos Riaan Benadé, Samantha Leonard, Die Piesangskille, Chris Steyn, Sunset Sweatshop, Dodo Nyoka en Lisie Basson.

Early B, Spoegwolf, Juanita du Plessis, Elandré, Die Heuwels Fantasties, Brendan Peyper, Ricus Nel, Appel, Kurt Darren, Karlien van Jaarsveld, Refentse, Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore en Francois van Coke is ook op die Feesmark-verhoog te sien.

Leerders van Laerskool Durbanville in die verhoogproduksie, “Kosblik”. (Foto: Verskaf)

Familieteater en -vermaak kry ʼn nuwe tuiste in die Feesmark by die Klein KKNK-teater, ondersteun deur die ATKV, waar ure se teatervermaak op kinders en hulle ouers wag.

In hierdie spesiale teatertent word kinderteaterproduksies, boekvoorlesings, poppekas, speletjies en meer aangebied. Toegang tot die teaterproduksies is gratis vir Feesmark-kaartjiehouers, maar plek in die teater is beperk.

Produksies as deel van hierdie aanbod sluit onder andere die Silwer Ovation-bekroonde Die rooi ballon, Kosblik met leerders van Laerskool Durbanville, Rondomtalie met onder meer Anna Davel en Dinosourusse kan nie lees nie in.

Vir smulpape en markievrate bied die stalletjies se inkopieparadys baie om te sien en dié aanbod word versterk deur die KKNK-winkel, wat sy deur in ʼn nuwe area oopswaai met meer en mooier aandenkings as in 2023.

Herman Lensing. (Foto: verskaf)

ʼn Buffet van kos wag by die hope kosstalletjies en deli-produkte, lekkernye en drinkgoed kan ook tussendeur geproe en geniet word. Lafenis teen die Oudtshoorn-hitte wag by die kroeë op die terrein en feesgangers kan ook uitspan by die lugverkoelde Absa Kuierkamer, waar die immergewilde Hannes van Wyk in gesprek tree met bekendes. Dié oase bied ook hope geleenthede om intieme optredes met verskeie kunstenaars te sien.

Kosskrywer Herman Lensing en sy bekende vriende gaan in die nuwe Checkers Liplekker-teater hul kookgeheime verklap en wanneer die hongerpyne begin knaag, kan daar gesmul word aan heerlike eetgoed by die Checkers-kosstalletjies.

En om van daardie laaste bietjie energie ontslae te raak, maak ʼn draai by die aksiebelaaide pretpark.

Die KKNK word vanjaar geborg deur Absa, Checkers, Het Jan Marais Nasionale Fonds, NATi, Netwerk24, kykNET, ATKV, die Oudtshoorn‑munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.

Dagkaartjies is beskikbaar vanaf R80 per dag vir volwassenes en kaartjies vir kinders tussen 7 en 13 jaar kos slegs R30. Toegang vir kinders jonger as 7 met ouerbegeleiding is gratis. ’n Spesiale kaartjie vir pensionarisse is ook by die KKNK se kantoor te koop. ’n Feeskaartjie bied toegang vir al nege dae, perfek vir diegene wat nie ’n oomblik van die aksie wil misloop nie.

Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za en kaartjies by Webtickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

23 tot 31 Maart 2024. Kaartjie verkoope is al oop en die program is aanlyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.