Patrizio Buanne kom stel sy Kersalbum aan SA’ners bekend

Patrizio Buanne, die Italiaanse sanger wat gewild is vir sy sterk strelende stem en dinamiese verhoogpersoonlikheid, het reeds verskeie albums met platinumstatus en honderde uitverkoopte vertonings op sy naam. Daar het egter iets ontbreek – ʼn Kersfeesalbum.

Die internasionaal-bekroonde sanger, wat al 15 jaar lank gehore bekoor, sal eersdaags sy eerste Kersfeesalbum uitreik. Christmas with Patrizio Buanne bestaan uit ’n versameling van die musikant se gunsteling-Kersliedjies en musiek wat hom oor die afgelope paar jaar geïnspireer het.

“Ek is nie net ’n Italianer wat Italiaanse liedjies sing nie. Alhoewel dit belangrik is om vir mense te gee waarvoor ek bekend is, wou ek ook graag iets nuuts probeer, of dalk iets meer. Ek wou my vermoë om groot treffers in my eie styl te verwerk ten toon stel, of dit nou Italiaans, Amerikaans of nuut is. Kersfees word mos wêreldwyd op verskillende maniere gevier.”

As aanhangers hom in die verlede uitgevra het oor die moontlikheid van ’n Kersalbum, het Buanne altyd gespot dat hy dit seker sal doen wanneer hy die dag getroud is en ’n pa word. Toe hy dus in April vanjaar voor die kansel staan, was hy geïnspireer om iets nuut te probeer.

“Die musiekwêreld het drasties verander sedert die begin van my loopbaan. Eers was dit CD’s, toe aflaai en nou stroom. Kunstenaars, en ek sluit myself in, kan skaars byhou. Alhoewel veranderinge terselfdertyd opwindend, uitdagend, avontuurlustig en verwarrend kan wees, is dit inderdaad ’n warrelwind-situasie.

“Aan die een kant was ek bereid om af te vat en aandag te gee aan my persoonlike lewe en aan die ander kant het ek die geleentheid gesien om aan ’n langverwagte nuwe album te werk – my eerste Kersalbum ooit,” sê Buanne.

Sy gunstelingliedjie op die nuwe album is “Tarantella Santa Claus”, ’n oorspronklike snit wat deur hom en sy span geskep is. Hy glo dat luisteraars mal daaroor gaan wees omdat dit prettig is, sy persoonlikheid weerspieël en iets unieks bied in hierdie gewilde genre. Hierdie feestelike partytjieliedjie is ook die eerste enkelsnit vanaf die album wat bekendgestel word.

“Ons leef nou wel in ’n wêreld wat vinniger verander as ooit tevore, maar sommige dinge bly konstant. In my geval is dit die kern van my artistieke bestaan, en daarom die kern van wat ek met mense wil deel – my musiek. My wens is dat hierdie feestelike liedere mense se huise en harte sal vul met die eindelose liefde wat ek nog altyd van hierdie wêreld af ontvang het,” sê hy.

Om dié konsep van eenheid gedurende die feestyd te versterk en die vrystelling van sy nuwe album te bemark, sal Buanne ’n reeks konserte in ’n aantal lande reg oor die wêreld hou, insluitende Suid-Afrika.

Hy sal op 6 November vir slegs een aand op die verhoog te sien wees by die Sun Arena in Pretoria.

Buanne, wat in Wene, Oostenryk, gebore is, glo sy kinderjare wat hy tussen Napels en Wene deurgebring het, het hom gehelp om ’n passie vir tale te ontwikkel. Vandag kan hy vlot Italiaans, Duits, Engels, Frans, Spaans en Pools praat.

Hy het op elfjarige ouderdom aan talentkompetisies en -vertonings begin deelneem en was net 17 jaar oud toe hy voor 85 000 mense, ter ere van die pous, in Pole opgetree het. Universal Musiek het Patrizio se ambisie en passie raakgesien en ’n platekontrak met hom gesluit, waarna hy sy eerste album in 2015 uitgereik het.

Om kaartjies vir Patrizio Buanne se konsert by Sun Arena in Pretoria te bespreek, besoek Computicket.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Musiek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.