Patrizio se nuwe Kersfeesalbum en konsert in SA

Patrizio Buanne, wat gewild is vir sy sterk, strelende stem en besonderse verhoogpersoonlikheid, staan ook liefdevol bekend as die ambassadeur van Dolce Vita of die Napolitaanse popster en spog met duisende aanhangers reg oor die wêreld.

Alhoewel hierdie internasionaal bekroonde sanger reeds verskeie multiplatinum-albums en honderde uitverkoopte vertonings op sy kerfstok het, het hy nog nooit in die vyftien jaar wat hy musiek maak ’n Kersfeesalbum vrygestel nie. Nou gaan dit verander!

Vanjaar kan aanhangers uitsien na Christmas with Patrizio Buanne, wat bestaan uit ’n versameling van die musikant se gunstelingkersliedjies en musiek wat hom oor die afgelope paar jaar geïnspireer het.

“Ek is nie net ʼn Italianer wat Italiaanse liedjies sing nie. Alhoewel dit belangrik is om vir mense te gee waarvoor ek bekend is, wou ek ook graag iets nuut probeer… of dalk iets meer. Ek wou my vermoë om groot treffers in my eie styl te verwerk ten toon stel, of dit nou Italiaans, Amerikaans of nuut is. Kersfees word mos op verskillende maniere, reg oor die wêreld gevier.”

Hy sal op 6 November vir slegs een aand op die verhoog te sien wees by die Sun Arena in Pretoria. Aanhangers kan tydens die konsert uitsien om saam te sing en ’n aand vol treffers en Kersliedere te geniet.

Vir die kunstenaar gaan dit oor die stem en ’n instinktiewe vermoë om die regte emosie oor te dra, en Christmas with Patrizio Buanne doen die sanger se reputasie, as ambassadeur vir Italiaanse en wêreldmusiek, gestand.

Die sanger is in Wene, Oostenryk, gebore en het sy kinderjare tussen Napels en Wenen deurgebring, wat hom gehelp het om ’n passie vir tale te ontwikkel. Vandag kan hy vlot Italiaans, Duits, Engels, Frans, Spaans en Pools praat.

Hy het op elfjarige ouderdom aan talentkompetisies en -vertonings begin deelneem en was net sewentien toe hy voor 85 000 mense, ter ere van die pous, in Pole opgetree het. Universal Musiek het Patrizio se ambisie en passie raakgesien en met hom ’n platekontrak gesluit, waarna hy sy eerste album in 2015 uitgereik het.

Oor die afgelope vyftien jaar, het Patrizio saam met die beste musikante opgetree en in die bekendste ateljees ter wêreld opnames gedoen. Hy het suksesvolle albums geskep wat hom in staat gestel het om talle konserte oor die wêreld heen te hou, waaronder Australië, Asië, Afrika, Europa, Suid-Amerika en die Verenigde State. Verder het hy ook vir koninklike families, presidente en talle bekendes opgetree.

Wat Patrizio regtig onderskei van ander groot kunstenaars, is nie die natuurlike grasie van sy stem, sy goeie voorkoms of die selfversekerde en tog eerbiedige aandag wat hy vir sy gehore gee nie; dit is die basiese vertroue wat hy by mense inboesem. Napoli het ’n eenvoudige woord wat dit beskryf – Simpatico.

As joernaliste en aanhangers hom in die verlede uitgevra het oor die moontlikheid van ’n Kersalbum, het Patrizio altyd gespot dat hy dit seker sal doen wanneer hy die dag getroud is en ’n pa word. Toe hy dus in April vanjaar trou beloof het, was hy geïnspireer om iets nuut te probeer.

“Die musiekwêreld het drasties verander sedert my loopbaan begin het. Eers was dit CD’s, toe aflaai en nou stroom… Kunstenaars, en ek sluit myself in, kan skaars byhou! Alhoewel veranderinge terselfdertyd opwindend, uitdagend, avontuurlustig en verwarrend kan wees, is dit inderdaad ’n warrelwind-situasie,” sê Patrizio. “Aan die een kant was ek bereid om af te vat en aandag te gee aan my persoonlike lewe en aan die ander kant het ek die geleentheid gesien om aan ’n langverwagte nuwe album te werk – my eerste Kersalbum ooit!”

Patrizio se gunstelingliedjie op die nuwe album is Tarantella Santa Claus, ’n oorspronklike snit wat deur hom en sy span geskep is. Hy glo dat luisteraars mal gaan wees daaroor omdat dit prettig is, sy persoonlikheid weerspieël en iets uniek bied in hierdie gewilde genre. Hierdie feestelike partytjieliedjie is ook die eerste enkelsnit wat gedeel word vanaf Christmas with Patrizio Buanne.

Met die Italiaanse sanger se tydlose styl en strelende klank wat deur die inhoud vloei, is die doel van die album, volgens Patrizio, om te wys dat alhoewel Kersfees op soveel verskillende maniere gevier word, dit geloof en liefde is wat ons saambind.

“Ons leef nou wel in ’n wêreld wat vinniger verander as ooit, maar sommige dinge bly konstant. In my geval is dit die kern van my artistieke bestaan, en daarom die kern van wat ek met mense wil deel – my musiek. My wens is dat hierdie feestelike liedere mense se huise en harte sal vul met die eindelose liefde wat ek nog altyd van hierdie wêreld af ontvang het,” sê hy.

Om dié konsep van eenheid gedurende die Feestyd te versterk en die vrystelling van sy nuwe album te bemark, sal Patrizio ’n reeks konserte in ’n aantal lande reg oor die wêreld hou – insluitend Suid-Afrika!

Om kaartjies te bespreek vir Patrizio Buanne se konsert by Sun Arena in Pretoria, besoek Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.