Peach die musikant nie nét sy pa se seun

Peach van Pletzen. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Peach van Pletzen. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Dit is vir my so vreemd as mense na my verwys as Oubaas se seun. Sover ek weet bly Oubaas se seun op Garies.”

Só skerts Peach van Pletzen, musikant en seun van die bekende akteur Pierre van Pletzen, en vat ʼn groot sluk van sy koffie. Spout Coffee Company in Pretoria is een van sy gunstelinge.

Sy pa het vir jare in sitkamers landwyd gekuier as Oubaas van Zyl in die SABC 2-sepie 7de Laan. Sy ma is die aktrise Elzette Maarschalk en sy suster, Zetske, is ook ʼn bekende aktrise wat deesdae saam met haar man, Altus Theart, in Getroud met rugby te sien is.

Hoewel hy uit ʼn bekende gesin in die vermaakwêreld kom, is hy nie verwaand oor sy ouers se bekendheid nie en glo hy dat hy in elk geval in die musiekbedryf sou beland. “My ouers het ʼn invloed gehad op die feit dat ek ʼn akteur wou wees, want ek en my suster het grootgeword op verhoë en rolprentstelle. Die feit dat hulle in dié bedryf is, het my beslis aangespoor om ook deel daarvan te wees, maar al was my ma ʼn prokureur en my pa ʼn dominee, sou ek nog steeds net musiek wou maak.”

Hy het van kleins af ʼn groot liefde vir musiek en vertel dat hy ʼn hele rits instrumente opgetel het voordat hy uiteindelik sy hartstog vir tromme ontdek het. Hy vertel hy was een middag vroeg vir ʼn kitaarles en kom toe agter die musiekonderwyser bied ook tromlesse aan. Hy het gevra of hy kan probeer en die res is geskiedenis.

“Die onderwyser het vir my gesê ek het ʼn natuurlike gevoel vir ritme. My pa het ook jare lank tromme gespeel en het sy 1963 outentieke Ringo Starr-tromstel vir my gegee om mee te oefen. Ek het die stel nou nog.”

Peach se musikale curriculum vitae skrik vir niks. Nadat hy matriek aan Pro Arte Alphen Park High School voltooi het, het hy vir sewe jaar in die rockgroep Shu gespeel. Hy het ook as tromspeler vir The Queen Experience opgetree, musiekprojekte soos Yesterday’s Pupil en Oorlog Frankenstein behartig en maak deel uit van die groep Bittereinder.

Sy jongste groep, Van Pletzen, se eerste album, K*k lekker vibe, het die Afrikaanse musiekbedryf stormgeloop. Op die maat van sy kenmerkende elektroniese klanke sing hy satiriese lirieke met ʼn humoristiese aanslag.

“Trek jou plakkies uit, dis eiland styl, vanaand laat ons die byle huil,” sing hy in die tropiese treffer “Eiland-styl”. “Ek en jy gaan dans en draai maar eers gaan ons ʼn vissie braai.”

“Ek voel dit is steeds net liedjies wat jy kan vereenvoudig met ʼn kitaar en stemme. Ek maak nie slegs op tegnologie of elektronika staat om die musiek te wees of te vervang nie, dit dryf net ʼn liedjie wat in enige genre gespeel kan word.”

Hy wou lankal sy pen in Afrikaans laat skryf, maar dit het geforseerd gevoel. “Dit waarmee ek kon opkom, het nie eg gevoel nie. Dit was nie ek nie. ʼn Baie groot deel van my lewe en waarvan ek hou, is humor. Humor is só ʼn magtige ding. Mense dink outomaties as jy iets kan maak wat mense laat huil is dit op een of ander manier meer werd as wanneer jy iets maak wat mense laat lag, maar dit is vir my ewe magtig en dra ewe veel gewig.”

Mense dink as iets snaaks is, is dit goedkoop, sê Peach. “Soos o, oukei, hierdie ouens is nie ernstig nie, hulle maak dit net op. Ons musiek is egter steeds deurdink, dit is net humoristies, tong in die kies en lewer sosiale kommentaar.”

Wat van die vloekwoorde in sy musiek? “Ek het darem nog nie iemand ontmoet wat my oor die kole gehaal het oor die woord ‘k*k’ nie, en dit is omtrent die ergste wat ons kwytraak. Dit sal vir my baie snaaks wees as mense nog steeds vashaak by dié woord, want ek dink nie die Afrikaner kan nou meer regtig nog só konserwatief wees nie. As hulle is, voel dit vir my dit is vals, asof mense voel hulle moet so wees, maar hulle is nie regtig so nie. Mense wonder of ek ernstig is met Van Pletzen, maar as iemand oor die woord wil kla, sal ek wonder of húlle ernstig is. Die mense wat daaroor gaan kla, is in elk geval nie die mense vir wie ons speel nie.”

Peach van Pletzen. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Peach van Pletzen. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Hy sal nooit almal gelukkig kan maak nie en hy wil ook nie, sê hy beslis. “Ek het geen illusie dat dit almal se koppie tee is nie. Humorsin verskil van mens tot mens. Wat lekker is, is dat die musiek vir die mense wat ons humorsin deel, fantasties is en dit is daardie groep mense met wie ons wil verbind.”

Peach verduidelik dat hy vir ure oor ʼn onderwerp kan filosofeer, selfs al is dit vir ander mense ʼn tweedimensionele onderwerp. “Mense wil dalk na ʼn album luister wat diep is en as hulle huil dan sê hulle die album het hulle geroer, maar as jy lag of glimlag, is jy ook geroer. Ons het ʼn goeie gehalte album gemaak met goeie produksiewaarde en niks is afgeskeep nie.”

Volgens Peach is daar ʼn beweging in die Afrikaanse kunstebedryf waar mense daarvan hou om kuns te maak wat net so effens van die hoofstroom af is, en vir hom is dit die opwindendste plek om te wees. Hy vertel hy sal graag weer sy akteursbaadjie wil aantrek.

“Ek het dit weer besef toe ek na die fliek Wonderlus gekyk het. Daar is iets aan die gebeur in die Afrikaanse bedryf waaroor ek so opgewonde is. Die egtheid is besig om terug te kom. Vir jare het ek nie toneel gespeel nie, want ek kon nie aanklank vind by die tekste wat ek gelees het nie. Ek was mal oor elke karakter in Wonderlus en kon uiteindelik voel daar is iets waarmee ek kan vereenselwig. Ek wens net die hoofstroomkykers en -luisteraars wil ook bietjie meer oopkop wees om die nuwe goed in te laat en dit te omhels, al hou hulle nie daarvan nie.”

Hy skram nie weg van negatiwiteit nie en vertel dat hy dit inteendeel verwelkom. “Ek sal eerder dat iemand op ʼn YouTube-video kommentaar lewer en sê: ‘Hierdie is stupid’, as dat hulle nie weet dat dit bestaan nie, of dat hulle dit gekyk het en niks het om te sê of te voel daaroor nie. Dit is ʼn goeie teken as mense nie van iets hou nie, want dit beteken die inhoud is sterk genoeg dat mense ʼn mening daaroor kan vorm en kan besluit hulle hou nie daarvan nie. Ons sit ʼn baie positiewe vibe uit en dit is wat ons 95% van die tyd terug kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.