Pelican State oor musiek, klas gee: ‘Daar is ʼn kuns in balans’

Constant van Graan, oftewel Pelican State (Foto: verskaf)

Hy is besig met ʼn doktorsgraad, het ʼn paar toneelstukke agter die blad, daar het al ʼn paar boeke uit sy pen verskyn en nou spog hy met splinternuwe musiek op sy kapstok.

Constant van Graan, beter bekend as Pelican State, is ʼn verkleurmannetjie van formaat. Maroela Media het by hom ingeloer om meer te wete te kom oor die vele projekte waarmee hy homself besig hou.

Pelican State se enkelsnit, “Heartbreak Motel”, wat ook die naam van sy langerspeelplaat (“EP”) is, is onlangs uitgereik.

“Dis die projek waarmee ek onlangs besig was, maar ek maak al die afgelope ses jaar lank musiek. Daar is ʼn paar liedjies om van te kies.”

Van Graan was oorspronklik deel van ʼn musiekgroep.

“Daar was ʼn getroude paartjie saam met my in die Pelican State-musiekgroep. Die twee het egter intussen Duitsland toe getrek, so tegnies gesproke is ek nou net ‘Pelican’.”

Van Graan skryf sy musiek self.

“Omdat ek nou nie klavier en tromboon of so iets kan speel nie, begin ek die projek en maak dit klaar saam met ʼn vervaardiger. Dis tog hulle wat dit uieindelik moet saamstel.”

Constant die akademikus

Constant werk tans as ʼn forensieserekenmeesterskap-dosent by die Noordwes-Universiteit.

“Forensiese rekeningkunde bly maar die fokus, dis my werk. Ek probeer in die aande en oor naweke tyd aan my musiek afstaan.”

Van Graan verbreek die stereotiepe grense wat rondom mense in sy bedryf opgerig is. Hy het ook verduidelik dat die bedryf eintlik veelsydiger is as wat mens sou dink.

“Gelukkig is forensiese rekeningkunde transdissiplinêr. Ja, daar is baie ouens wat meer analities van aard is wat fokus op die finansiële state en moontlike manipulasie wat plaasvind, maar daar is ook ander velde wat betree word. Daar is ʼn baie groot regsveld daaraan gekoppel. Jy weet, soos: Wat doen ons met die bewysstukke ná afloop van die ondersoek? Hoe gaan ons te werk met die strafregtelike kant? Rekenaartegnologie begin ook al hoe belangriker word.”

Van Graan verduidelik dat hy meer met die sosiale kant van die bedryf werk.

“Ons werk met mense. Ons moet weet hoe om ʼn onderhoud te voer, hoe om inligting te verkry.”

Hy verduidelik verder dat elke ondersoek uniek is.

“Daar is nie noodwendig boksies om af te merk nie. Dit verg baie kreatiwiteit.”

Die ander sy

Vir hom is die twee wêrelde vervleg. Die studente inspireer hom om aan te gaan met die skeppende paaie waarop hy hom tans bevind.

Wanneer Constant nie agter die mikrofoon is nie, tel hy die skrywerspen op om aan te hou werk aan sy reeks boeke.

“Ek hou daarvan om in koffiewinkels te sit en skryf, mense dop te hou, my inspirasie daar te kry.”

Hy het sy lyf ook al ʼn paar keer akteur gehou.

“Daar is ʼn kuns in balans. Ek moes die besluit neem om my op net ʼn paar projekte toe te spits. Ek het besef dat ek nie alles op een slag kan doen nie.”

Gebore en getoë

Dié veelsydige kunstenaar is gebore in Kempton Park. Hy is egter trots op sy titel as Namibiër, waar hy die grootste deel van sy grootwordjare deurgebring het.

Hy het ʼn paar jaar in Potchefstroom deurgebring waar hy sy studentejare voltooi het. Dis hier waar hy deur middel van koshuis- en universiteitsaktiwiteite opnuut op musiek verlief geraak het.

“Ek was in ʼn klein koshuis, dit het beteken dat byna die helfte van die koshuis aan sêr moes deelneem.”

Hy het hierna teruggekeer Windhoek toe waar hy as forensiese rekeningkundige gepraktiseer het.

Die studentedorp, waar hy die afgelope agt jaar al woonagtig is, het hom teruggelok.

“Dit was vreemd in die begin, ek was self ʼn student in die einste klasse waar ek nou klas gee. Ek is nou al gewoond daaraan, en ek dink omdat ek jare terug in dieselfde skoene as my studente was, het ek meer empatie met hulle.”

  • Om meer oor Jungu Josh, Van Graan se reeks boeke te wete te kom, besoek die webwerf.

Luister na Heartbreak Motel hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.