People’s Choice-toekennings in Kalifornië uitgedeel

Demi Lovato het die People’s Choice-toekennings aangebied. (Foto: Instagram)

Die 46ste jaarlikse People’s Choice Awards is Sondag regstreeks deur die vermaaklikheidskanaal E! vanuit die Barker Hangar in Santa Monica, Kalifornië, uitgesaai.

Dié toekenningsgeleentheid vereer die room van die internasionale vermaaklikheidsbedryf en pop-kultuur. Die sangeres Demi Lovato het die geleentheid aangebied.

ʼn Gehoor het via Zoom ingeskakel terwyl bekendes soos Mandy Moore, Armie Hammer, Jameela Jamil, Machine Gun Kelly, Tiffany Haddish, Christina Hendricks, Sofia Vergara en Mario Lopez die geleentheid bygewoon het.

Die toekenning vir fliek van die jaar is deur die Will Smith-komedie Bad Boys for Life ingeoes, terwyl Ellen Pompeo van Grey’s Anatomy, wat ook die geleentheid bygewoon het, as vroulike televisiester van die jaar aangewys is.

Cole Sprouse van die Netflix-reeks Riverdale is as manlike televisiester van die jaar aangewys. Riverdale is ook as televisiereeks van die jaar aangewys.

Jennifer Lopez in ‘n Christiano Siriano-skepping. (Foto: Instagram)

Die Kanadese popster Justin Bieber is met die toekenning vir manlike kunstenaar van die jaar vereer. Bieber het ook tydens die geleentheid opgetree. Ariana Grande is as vroulike kunstenaar van die jaar en sosiale media-bekende van die jaar aangewys.

Die Koreaanse popgroep BTS is met die toekennings vir groep, liedjie en musiekvideo van die jaar vereer. Hulle het ook die toekenning vir album van die jaar gewen vir Map of the Soul: 7.

Jennifer Lopez (51) is met die People’s Icon-toekenning vereer. Die toekenning vier haar loopbaan as aktrise en sangeres oor die laaste drie dekades. Sy het in 1997 bekendheid verwerf vir haar rol as die vermoorde Latynse sangeres Selena Quintanilla in die rolprent Selena. Sy het ook vroeër vanjaar tydens die gesogte Super Bowl-halftydvertoning opgetree.

Lopez se vriendinne, die aktrises Reneé Zellweger en Nicole Kidman, asook haar 12-jarige tweeling Max en Emme, het haar verras met spesiale boodskappe wat vooraf opgeneem is. Lopez het in haar toespraak daarop gewys dat 2020 ʼn moeilike jaar was in die lig van die wêreldwye Covid-19-pandemie.

“Hierdie jaar het ons geleer wat werklik saak maak en wat nie. Vir my het dit ook versterk wat die meeste saak maak: Mense, almal van ons, saam. Wat mekaar help, liefhet, en vriendelik is teenoor mekaar en die belangrikheid van konneksie en menslike aanraking,” het sy gesê.

Tracee Ellis Ross. (Foto: Instagram)

“Ek het besef dit is waarna ek strewe in alles wat ek doen. Om mense te bereik en mense aan te raak. Ek glo dit is wat ons almal wil hê, om te weet ons is nie alleen nie en dat ons ervaringe deel.

“As ek jou ooit op enige manier aangeraak het, is hierdie die beste toekenning wat ek nog ooit kon ontvang. Ek aanvaar hierdie toekenning met groot nederigheid en dankbaarheid.”

Die Amerikaanse akteur Tyler Perry het die People’s Champion-toekenning gewen, terwyl Tracee Ellis Ross met die mode-ikoon-toekenning vereer is.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.