‘Persoonlike, prismatiese’ nuwe album vir Janie Bay

Janie Bay. (Foto: Altin Ferreira)

Die musikant Janie Bay verskuif weer die grense van kontemporêre Afrikaanse musiek met haar lankverwagte eerste Afrikaanse album getiteld Prisma.

Dié album is ʼn samevoegsel van liedjies wat tussen 2019 en vroeër vanjaar geskryf is. Met persoonlike temas soos familie, liefde, passie, verlies en aanmoediging as hoeksteen, is dit ʼn smeltkroes van uiteenlopende musikale teksture wat wye draaie gooi tussen ballades en ligte popmusiek, asook ʼn goeie dosis elektroniese adrenalien.

Die eerste enkelsnit vanuit die album getiteld “My lief” is saam met die kunstenaars Majozi en Early B opgeneem. Bay vertel dit is een van die liedjies wat sy in 2019 al vir die album geskryf het.

“Ek en Majozi ken mekaar al so lank en het nog altyd gesê ons sal saam ʼn liedjie uitbring as ons die regte een kan vind. Ons het geweet dit gaan nie ʼn maklike taak wees nie, maar toe ek ‘My lief’ geskryf het, het ek my instinkte gevolg en hom gevra of hy dit saam met my wil aanpak,” sê sy.

Dié liedjie is reeds uiters gewild op radiostasies landwyd. “Ons drie se klanke as kunstenaars is so uiteenlopend, maar dit klink myns insiens baie goed wanneer dit bymekaarkom. Die idee was aanvanklik dat Majozi sy gedeelte ook in Afrikaans sou sing, maar die Engelse liriek het baie meer natuurlik geklink op sy tong en op die oor.”

Dit was Damiane van Reenen, regisseur van die musiekvideo vir “My lief”, wat voorgestel het dat Bay ʼn snyerspak dra vir die verfilming van die video. Marguerite van Eeden het die video vervaardig.

“Marguerite het gesê sy het ʼn geel pak en dit het so perfek ingepas by die oorhoofse kleurskema van die album,” sê Bay. Die video het einde Mei gedebuteer op YouTube en het reeds byna 80 000 kykbeurte gekry.

“Ek dink die vars voorkoms het saam met my nuwe haarstyl baie organies gebeur en is tekenend van die persoonlike groei wat ek ervaar het in my lewe en ook in my musiek.”

Sy vertel sy is opgewonde om ʼn oorspronklike Afrikaanse album uit te reik. Sy het verlede jaar ʼn akoestiese album getiteld In die Sitkamer uitgereik, wat tydens die inperking opgeneem is.

Janie Bay se nuwe album ‘Prisma’ is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Die temas van die liedjies is baie persoonlik, sê sy. “Dit maak my opgewonde dat mense dit gaan hoor, maar dit is ook terselfdertyd senutergend. As kunstenaar sit jy baie van jouself en jou ervarings in die skryfwerk en is jy veel meer kwesbaar wanneer jy jou persoonlike gedagtes só blootlê. Ek doen dit egter duisend keer eerder só en ek weet my musiek is outentiek en eg.”

Prisma bevat sewe snitte, waarvan een ʼn verwerking is van Fokofpolisiekar se treffer “Tevrede?”. “Ek glo nog in jou” saam met Danie Reënwolf van die groep Spoegwolf is ook in die album opgeneem.

Nuwe liedjies getiteld “Kalmeer”, “Babylon”, “Sweef” en “Lewens” is ook in die album te hoor. “Elke liedjie is vir my spesiaal en gee my ʼn warm gevoel. Elkeen het ʼn ander betekenis en sit op ʼn ander plek in my hart.

“Die liedjie waarby ek die meeste aanklank vind, is ‘Kalmeer’. Dit gaan oor die onvoorspelbare wêreld waarin ons leef en hoe vinnig dinge beweeg. Dit voel asof daar tans soveel onverwagte dinge oor ons almal se pad kom. Ons het almal ʼn bietjie kalmer waters nodig.”

Bay se musiek word as alternatiewe Afrikaans beskryf en sy sê dit is vir haar nog steeds belangrik om progressief te wees in haar musiekstyl en in Afrikaans.

“Ek luister wat kunstenaars wêreldwyd met musiek doen en voeg dan my eie idees en konsepte by om dit my eie te maak.”

Sy het die naam Prisma vir die album gekies nadat sy saam met die fotograaf van die albumomslag, Altin Ferreira, op die stel van dié fotosessie was.

“Hy het vir my gesê hy het ʼn idee wat hy wil uittoets met die omslagfoto – soos wat dit tans op die albumomslag vertoon – en die effek op die kamera se naam was ‘prism’. Ek het opgelees oor die woord, wat losweg beteken dat lig op ʼn sekere manier reflekteer wanneer jy deur sekere objekte daarna kyk, en dit het by my geresoneer. Om dinge in ʼn ander lig te sien, het mooi saam met die musiek gepas en dit is ʼn woord wat ʼn mens maklik kan onthou.”

Bay het in 2017 as South African Music Awards- (SAMA-)benoemde kunstenaar en internasionale pryswenner by Warner Music South Africa aangesluit. Haar musiek is volgens RadioMonitor.com al meer as 6 miljoen keer gestroom en haar Afrikaanse enkelsnitte het die afgelope twee jaar meer as 90 miljoen luister-trefslae gehad.

Prisma is opgeneem en vervaardig saam met Ruan Graaff en Deon “Dee” Volschenk van Dee Graaff Productions.

Die album is vanaf vandag (Vrydag) aanlyn beskikbaar by alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir “My lief”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.