Pianiste warm op vir Atterbury-kompetisie

Die agtste nasionale Atterbury-klavierkompetisie vind vanjaar weer van 22 tot 26 Oktober by die Atterbury-teater in Pretoria plaas.

Dié kompetisie is van stapel gestuur om ʼn platform te skep waar jong pianiste hul vaardighede op ʼn gelyke speelvlak ten toon kan stel, asook om blootstelling op die verhoog te verkry en erkenning te gee aan hul toewyding en talent. Dit berei die deelnemers voor vir die nasionale Unisa-klavierkompetisie én die internasionale arena.

Oudisies is deur middel van DVD-opnames afgelê en 41 suksesvolle kandidate is gekeur om aan die kompetisie deel te neem. Deelnemers kom van onder meer KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Stellenbosch.

Luidens ʼn mediaverklaring het heelwat nuwelinge, wat nog nooit vantevore aan die kompetisie deelgeneem het nie, ingeskryf.

Die amptelike opening vind op Maandag 22 Oktober plaas. Louis Nel, die algehele wenner van verlede jaar se kompetisie, sal die verrigtinge open met ʼn kort program. Daarna sal die wenner van die Stefans Grové-komposisiekompetisie vir 2018 aangekondig word. Die werke van die wenners sal ook uitgevoer word.

Om die aand af te sluit sal vanjaar se deelnemers op die verhoog aan die publiek voorgestel word.

Kaartjies vir die finale galakonsert op 26 Oktober is beskikbaar by Computicket. Die openingsaand én die uitdunrondes gedurende die week kan gratis bygewoon word.

Vir meer inligting besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.