Die musikant Pieter Smith is só passievol oor Afrikaanse musiek dat hy besluit het om in die ryke geskiedenis van die musiek in dié taal te delf en ʼn hele produksie op die been te bring wat die nostalgie van sy bevindinge uitbeeld.
“Ek wou graag hê dat mense saam met my in die geskiedenis van die musiek deel,” vertel Smith in ʼn onderhoud met Maroela Media oor “Die Storie van Afrikaanse Musiek – Deel 1”.
“Ek is mal oor geskiedenis, maar ek weet daar is baie mense wat nie daarvan hou nie. Tog glo ek die produksie bied iets vir almal. Die produksie is só interessant, want jy kan sien hoe die musiek wat ons nou het van destyds af gevorm is.”
Smith neem sy gehoor terug in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, van die heel eerste opname van Afrikaanse musiek wat tot 1906 dateer, die geskiedenis van legendariese liedjieskrywers en sangers soos Chris Blignaut, Danie Bosman, Die Briels en vele ander, tot in 1980.
Sleutelfigure in ligte Afrikaanse musiek soos Groep Twee, Gé Korsten, die Alabama-studentegeselskap, Min Shaw en Anton Goosen vorm ook deel van dié era.
Smith vertel dat hy baie navorsing moes doen vir die projek. “Die ding is dat daar nie so baie boeke oor die Afrikaanse musiekgeskiedenis is nie, miskien twee of drie. Daarom moes ek baie van die ouer kunstenaars, mense soos Gert van Tonder van Groep Twee, Johan van Rensburg en André Viljoen, nader vir inligting. Ek het ook met Daantjie ‘Dinamiet’ Badenhorst gesels, want hy het ʼn wye kennis van die musiekwêreld.”
Die eerste vertoning van die produksie het in Mei vanjaar plaasgevind. Talle bekendes het dié geleentheid bygewoon. Gert van Tonder, Rina Hugo en Steve Hofmeyr is net ʼn paar van die bekendes wat Smith kom ondersteun het.
“Die terugvoer wat ek ná die eerste vertoning gekry het, is ongelooflik,” sê Smith. “Van die legendariese kunstenaars het selfs saam met my opgetree. Dit was werklik ʼn aand om te onthou.”
Smith beoog om ʼn album uit te reik met van die musiek wat tydens dié projek versamel is. “Die album sal voor einde Augustus beskikbaar wees.”
Dié projek is egter nie die enigste nuwe baba in Smith se lewe nie. Hy en sy vrou, Yolandi, verwag hul tweede pienkvoet in Oktober. Hierdie keer is dit ʼn seuntjie en Smith vertel daar is baie opwinding in hul huis. Die egpaar se dogtertjie, Alexei, is in Januarie 2017 gebore.
“Sy is nog te klein om te weet wat aangaan,” lag die sanger. “Dit gaan nogal ʼn nuwe ding wees, maar elke dag leer ʼn mens en ons sien baie uit daarna.”
Die volgende “Die Storie van Afrikaanse Musiek – Deel 1”-vertoning vind op 22 Augustus by die Blou Hond-teater in Pretoria plaas. Bespreek by 012 348 8820 of besoek die teater se webwerf.
Baie geluk julle.
“Pienkvoet”???? “Baba” klink tog soveel beter.
Pienkvoet, maar dit is dan ‘n seuntjie?
Ver gekom was Zaragossa se dae
Wat maak dit saak wat n pienkvoet is. Dis n baba met pienkvoetjies!