Pieter Koen word 40

Pieter KoenDie bekende sanger, radio-omroeper en televisieaanbieder Pieter Koen het gister sy 40ste verjaardag gevier.
Pieter is oorspronklik van Standerton afkomstig, maar was verbonde aan die Drakensbergse Seunskoor. Nadat hy sy diensplig aan 1 Valskermbataljon in Bloemfontein voltooi het, het hy by die destydse Technikon Pretoria gestudeer. Later het hy ‘n omroeper by die destydse Radio Rippel in Pretoria geword en sy debuutalbum, Run with me, is in 1997 uitgereik.
Nadat hy ‘n kontrak by ‘n groot platremaatskappy gekry het, het sy albums Skud jou biscuit (‘n sêding wat hy uitgedink het toe hy by Radio Rippel gewerk het) en Welkom in my wêreld gevolg. Sy groot deurbraak het egter gekom toe hy die Anton Myburgh-komposisie Tattoo opgeneem het. Dit was ook die titelsnit van een van sy suksesvolste albums. Nog ‘n groot treffer was Drie susters op Drie Susters. Die album Drie susters is later heruitgereik as Drie susters en Superman, nadat ‘n paar bonussnitte bygevoeg is. Nadat sy album, Haak ‘n bietjie uit vrygestel is, het Pieter sy Grootste Treffers-versameling uitgereik.
Vroeër vanjaar het Pieter se musiekloopbaan egter ‘n nuwe wending geneem toe hy weer van platemaatskappy verander het. Man van staal het ‘n mens ‘n idee gegee van wat om te verwag, maar die titelsnit, Wat die hart van vol is, het ‘n mens laat besef dat Pieter sy partytjieklere uitgetrek het en meer “enstig” begin raak het. Dit het klaarblyklik gewerk, aangesien dit een van Pieter se grootste treffers tot nog toe geword het.
Intussen het Pieter die aanbieder van die gewilde musiekprogram Jukebox op kykNet geword, en bied hy die Afrikaanse Top 20 op Sondagaande op Jacaranda FM aan. Hy het al verskeie toekennings vir Jukebox gewen, en gee gereeld vir opkomende of minder bekende kunstenaars ‘n platform om hulself en hul musiek aan die publiek bekend te stel.
Baie geluk, Pieter, en mag daar nog vele wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.