Pieter Smith vereer dapper kinderheld in nuwe lied

Pieter Smith. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Vandag se jonges besef nie altyd watter veerkragtige voorouers hulle gehad het nie, veral omdat hedendaagse skoolgeskiedenisboeke nie plek vir almal se verhale het nie. Daarom moet die kunste en veral musiek gebruik word om mense op te voed oor belangrike geskiedkundige figure soos Japie Greyling.”

Só sê die Afrikaanse sanger Pieter Smith wat onlangs in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ʼn nuwe lied oor dié dapper Anglo-Boereoorlog-kinderheld bekendgestel het.

Smith – wat gewild geraak het onder Afrikaanse musiekliefhebbers met sy nuwe weergawes van ou Afrikaanse treffers – is self ʼn geskiedenisliefhebber en het al liedjies oor ʼn wye verskeidenheid noemenswaardige gebeurtenisse en figure in die Afrikaanse geskiedenis neergepen.

Smith is self ʼn geskiedenisliefhebber. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die Anglo-Boereoorlog, en veral kinderhelde, lê hom egter nog altyd na aan die hart.

Daarom het hy besluit om hulde aan dié jong seun – wat tydens die Anglo-Boereoorlog geweier het om inligting oor ʼn Boerekommando aan die Britte te verstrek – te bring.

Jacobus Johannes Cornelis (Japie) Greyling is in 1890 op die plaas Smaldeel in die destydse Oranje-Vrystaat gebore en het tydens die Anglo-Boereoorlog saam met sy ma en sibbe op dié plaas agtergebly.

Toe die Britse magte in Maart 1901 vermoed dat daar ʼn Boerekommando naby dié plaas gewaar is, is die jonge Japie deur ʼn Britse bevelvoerder, kapt. John Seely, gedreig om inligting oor die kommando se planne te deel.

Seely het Japie teen ʼn muur van die huis voor ʼn vuurpeloton laat staan en gesê dat hy Japie sou laat skiet indien hy nie sê waarheen die kommando’s op pad is nie, maar alle pogings om inligting uit die seun te kry, was egter te vergeefs.

Sy dapperheid het Seely so beïndruk dat hy sy soldate beveel het om hul gewere te laat sak en het Japie na bewering met ʼn handdruk gegroet voordat hy die plaas verlaat het.

Hoewel Japie se verhaal en dapperheid by die Kindermonument in Bloemfontein opgeteken is en daar destyds selfs ʼn skool na hom vernoem is, het hy na bewering nooit melding van sy heldedaad gemaak nie.

Hy hoop dat mense deur Japie se verhaal geïnspireer sal word. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Smith het aan Maroela Media gesê dat Japie se agterkleinkind met hom deur Facebook kontak gemaak het en vertel het dat die plaas en muur waar dié geskiedkundige gebeurtenis afgespeel het, steeds staande is. Smith se droom is om self die plaas te besoek en moontlik saam met belangstellende partye ʼn dokumentêr of musiekvideo daar te verfilm.

“Té min mense onthou vir Japie Greyling en dit is ʼn groot skande. Dié wat wel van hom weet dink dikwels dat hy doodgeskiet is en dit is nog ʼn groter skande. Ek wil hê mense moet weet hoe braaf hy was en wat diep binne hom gelê het.”

Die patriotiese sanger benadruk dat die lied nie “polities” is nie. “Ek is moeg vir die politieke kaart wat gespeel word wanneer daar oor die geskiedenis gepraat word. Dit is glad nie waaroor die lied gaan nie. Dit gaan oor my herkoms en ek is trots daarop.”

Hy hoop egter dat Japie en die Boere se verhale van swaarkry en opstaan tydens én na die oorlog mense sal inspireer om nie net in sak en as te gaan sit wanneer die lewe uitdagend raak nie.

“Jy kan boonop nie vooruit gaan as jy nie weet waarvandaan jy kom nie.”

“Japie Greyling” is tans op alle groot stromingsdienste beskikbaar. Luister hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Dankie Pieter, ophou en moed opgee is nie in ons woordeskat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.