Pieter Smith deel die geskiedenis van Afrikaanse musiek

Pieter Smith, die sanger wat gewild geraak het onder Afrikaanse musiekliefhebbers met sy nuwe weergawes van ou Afrikaanse treffers, is terug met ʼn splinternuwe album en vertoning getiteld Die Storie van Afrikaanse Musiek – Deel 1.

Dit is Smith se negende album. Dié “Blomme”-sanger het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dit is juis sy passie vir Afrikaanse musiek wat hom laat besluit het om in die ryke geskiedenis van die musiek in dié taal te delf en ʼn hele produksie op die been te bring wat die nostalgie van sy bevindinge uitbeeld.

“Ek is mal oor geskiedenis, maar ek weet daar is baie mense wat nie daarvan hou nie. Tog glo ek die produksie bied iets vir almal. Die produksie is só interessant, want jy kan sien hoe die musiek wat ons nou het van destyds af gevorm is,” het Smith gesê oor dié produksie.

Hy neem sy gehoor terug in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, van die heel eerste opname van Afrikaanse musiek wat tot 1906 dateer, die geskiedenis van legendariese liedjieskrywers en sangers soos Chris Blignaut, Danie Bosman, Die Briels en vele ander, tot in 1980.

Sleutelfigure in ligte Afrikaanse musiek soos Groep Twee, Gé Korsten, die Alabama Studentegeselskap, Min Shaw en Anton Goosen vorm ook deel van dié era.

Smith het vertel dat hy baie navorsing vir die projek moes doen. “Die ding is dat daar nie so baie boeke oor die Afrikaanse musiekgeskiedenis is nie, miskien twee of drie. Daarom moes ek baie van die ouer kunstenaars, mense soos Gert van Tonder van Groep Twee, Johan van Rensburg en André Viljoen, nader vir inligting. Ek het ook met Daantjie ‘Dinamiet’ Badenhorst gesels, want hy het ʼn wye kennis van die musiekwêreld.”

Voor: Riaan van Rensburg. Middel (van links na regs): Gert van tonder, Lydia Winchester, André Viljoen, Pieter Smith, Arno Jordaan, Pieter Koen. Agter (van links na regs): Fatman (Johan Brummer), Jakkie Louw, Blackie Swart, Daantjie Badenhorst, MD Greyling, Steve Hofmeyr, Johan van Rensburg, Rina Hugo tydens die vertoning in Mei verlede jaar. (Foto: Gerhard Minnaar/Event Pho)

Voor: Riaan van Rensburg. Middel (van links na regs): Gert van tonder, Lydia Winchester, André Viljoen, Pieter Smith, Arno Jordaan, Pieter Koen. Agter (van links na regs): Fatman (Johan Brummer), Jakkie Louw, Blackie Swart, Daantjie Badenhorst, MD Greyling, Steve Hofmeyr, Johan van Rensburg, Rina Hugo tydens die vertoning in Mei verlede jaar. (Foto: Gerhard Minnaar/Event Pho)

Die eerste vertoning van die produksie het in Mei verlede jaar plaasgevind. Talle bekendes het dié geleentheid bygewoon. Gert van Tonder, Rina Hugo en Steve Hofmeyr is net ʼn paar van die bekendes wat Smith kom ondersteun het.

Die album bestaan uit 21 liedjies waar Smith kunstenaars soos Fatman van The Voice-faam, Christo Snyman en Maria Viviers van die gewilde groep TWEE ingespan het om saam met hom van die snitte op te neem.

Liedjies soos “My hart verlang na die Boland”, “Groen koringlande”, “Daar is niks soos ware liefde”, “Katryn-Katryntjie” en “Die Oukraalliedjie” is op die album te hoor.

Die album word uitgegee deur Snyman Musiek Produksies. Vir bestellings en navrae, skakel 021 981 5725 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Vir optredenavrae en besprekings, kontak NvR Management by 012 751 5005 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.