Pieter Smith vier sy 40ste verjaardag

Pieter-Smith

Pieter Smith. Foto: Facebook.

Die bekende Afrikaanse sanger Pieter Smith is vandag 40 jaar oud.

Pieter Johannes Jacobus Smith is op 19 Augustus 1975 in Potchefstroom gebore en het matriek aan die Hoërskool Gimnasium behaal. Hy het al op agttienjarige ouderdom professioneel begin optree en ná skool het hy sy tersiêre opleiding in musiek en musiekonderwys voltooi. Hy het by die Laerskool Queenswood kitaarlesse gegee, en die koor en revuegroep afgerig.

In 2001 het Pieter se eerste album, Alles wat gejaagd is, verskyn, maar dit is gou heruitgereik onder die titel Rooikar. Pieter se eerste groot treffer het twee jaar later gevolg toe sy volgende album, Man op die maan, vrygestel is. Die titelsnit het heelwat lugtyd gekry, maar die een snit wat Pieter onder die publiek se aandag gebring het, was “Blomme”, wat ’n gewilde serenadeliedjie geword het en ook in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is. In 2005 het Die een gevolg, met die titelsnit en “Kimberley se spoke” as treffers.

Kort daarna stel hy sy eerste DVD, ’n Aand in Junie, wat by die Centurion-teater opgeneem is, vry.  Hierdie DVD bevat sy treffers, maar ook bekende snitte soos “Katryn Katryntjie” van Sonja Herholdt, “Voshaarnooi” van Louis van Rensburg en “Trans-Karoo” van Herman Holtzhausen. Dit is egter die uitsondering eerder as die reël, aangesien Pieter hoofsaaklik sy eie liedjies skryf en komponeer.

In 2008 stel Pieter twee CD’s vry. Die dubbele CD Niemand soos jy bevat die treffers “Bietjie”, “Daisy de Melker” en “Liefling by die see”. Pieter hou gewoonlik daarvan om keurspele van bekende liedjies tydens sy optredes te sing, en verskeie daarvan kom op die tweede CD voor.

Pieter is lief vir spookstories, en in dieselfde jaar reik hy ’n versameling uit met spookliedjies wat hy self geskryf het, soos “Die vlieënde Hollander”, “Daisy de Melker”, “Kimberley se spoke” en sy verwerking van die A.G. Visser-gedig “Die ruiter van Skimmelperdpan”. Die CD bevat ook Pieter se weergawes van bekende spookliedjies soos “Blommetjie gedenk aan my” van Anton Goosen, “Die spook van Dawid Rosekrans” van Anton de Waal en “Op die pad na Nooitgedacht” van Koos du Plessis.

Ter viering van sy tiende jaar in die musiekbedryf, stel Pieter in 2012 die versamelalbum Beste uit 10 vry. Hierop verskyn sy grootste treffers, maar ook ’n paar nuwe snitte, soos “Lanie”, “Lambertsbaai” en seker sy grootste treffer tot dusver, “Stukkie van der Merwe”, waarop DJ Ossewa saam met hom sing. Weer eens is dit ’n dubbele album, en op die tweede CD verskyn duette saam met Jannie Moolman en Steve Hofmeyr, asook ’n nuwe snit op die wysie van die bekende volksliedjie “Sarie Marais”, getiteld “Bring my terug”, asook ’n aantal van die keurspele waarvoor hy bekendheid verwerf het.

Pieter is ook ’n baie gewilde verhoogkunstenaar, en hy moes reeds in 2001 die onderwys verlaat omdat hy vir soveel optredes bespreek is dat hy nie langer met dié beroep kon voortgaan nie. Hy kry gewoonlik staande toejuiging ná elke optrede en mense sing graag saam met hom. Hy tree gereeld by kuierplekke op en dit is veral studente wat gaande is oor sy musiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda ·

Baie geluk. Was altyd my ouboet se gunsteling song. Altyd gese “frikkie van der merwe”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.