Platemaatskappy op soek na plaaslike musiektalent

Die platemaatskappy David Gresham Records is op soek na vars bloed vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en het ʼn landwye “Sing for Us”-talentsoektog na die beste opkomende musikante in die land van stapel gestuur.

Die soektog het ten doele om ʼn platform te bied vir opkomende musikante wat weens die Covid-19-pandemie nie vertonings kan lewer nie en nie deur talentsoekers raakgesien kan word nie.

Mans en vroue van alle ouderdomme het nou geleentheid om deur David Gresham, uitvoerende hoof van David Gresham Records, raakgesien te word. Musikante wat die maatskappy se oog vang, staan die kans om ʼn platekontrak los te slaan.

Al wat vereis word, is ʼn video-opname van ʼn gunsteling-liedjie wat musikante na die platemaatskappy kan stuur via WhatsApp of e-pos. Die Gresham-span onderneem ook om binne 14 dae terugvoer aan elke musikant te gee.

Volgens Andrew Mitchley, operasionele hoof van die maatskappy, is daar nie ʼn sperdatum nie.

“Ons is altyd op soek na nuwe talent. Soms is jou eerste poging nie jou beste nie en daarom kan video’s gereeld ingestuur word. Jy kan slegs vordering maak as jy elke keer jou beste gee,” sê hy.

Mitchley se raad aan opkomende musikante wat ʼn kans wil waag is om seker te maak die video’s is van goeie gehalte en dat enige onnodige agtergrondklanke en eggo’s tot ʼn minimum beperk moet word.

“Ons stel belang daarin om te weet watter soort kunstenaar jy is. Dit word die beste uitgedruk deur ʼn kort inleiding oor jouself en die manier waarop jy jouself aanbied,” sê hy.

Hoewel dit ook nie noodsaaklik is om ʼn instrument te bespeel nie, sal dit moontlik in jou guns tel, sê hy. “Dit gee ons insig tot jou kreatiewe potensiaal buiten slegs jou sangstem.”

David Gresham Records is een van Afrika se grootste, onafhanklike platemaatskappye en is reeds vir bykans vyf dekades verantwoordelik vir treffers van plaaslike en internasionale sterre soos Kylie Minogue, Prime Circle, Depeche Mode en Janet Jackson.

In die laaste vyf jaar het die maatskappy meer as 700 plaaslike albums uitgereik. Die maatskappy het kantore in Johannesburg en Kaapstad.

Video’s kan gestuur word na Carla by [email protected] of per WhatsApp by +27 71 726 0526.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.