‘Plattelanders’-kunstenaars binnekort in Centurion-teater

“Ons sing beter as wat ons dans. Kom kyk self,” het Mighael van der Walt op sy Facebook-blad geskryf. Muller Brandt meen jy kan sommer die hele gesin saambring. “Dit gaan ʼn gesellige aand van musiek, stories en dalk ʼn paar puns wees,” het hy geskryf. Van der Walt en Brandt tree op 3 Desember in die Centurion-teater in Pretoria op.

Dié twee kunstenaars het vroeër vanjaar Maroela Media se eie liedjie, “Plattelanders”, geskryf en vervaardig.

Muller Brandt en Mighael van der Walt

“Van der Walt en Brandt is albei baie talentvolle musikante wat graag saam werk,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê. “Hulle klank is eg Afrikaans en hulle het ’n goeie sin vir humor. Daarom was hulle die perfekte kunstenaars om dié liedjie se lirieke en musiek te skep,” het sy bygevoeg.

Van der Walt, ʼn gebore Vrystater en pa van twee, is sedert sy skooldae doenig met musiek, maar het eers in matriek regtig begin lééf toe hy homself geleer kitaar speel het.

Ná skool het hy by die kerk se musiekspan betrokke geraak en sommer vinnig begin om die jeugmusiekbediening te lei.

In 2016 het hy saam met Brandt die groep, ’n Pel Van My, begin en van toe af by troues, feeste en gesellighede opgetree.

Brandt is in Pretoria gebore en het in ʼn musikale gesin grootgeword. Hy het ná skool sy musiekdiploma aan die Kampus van Uitvoerende Kunste (COPA) verwerf en het sedertdien saam met van die land se grootste vervaardigers gewerk en verskeie enkelsnitte, waaronder “Ballades wat resoneer” en “Jy is”, uitgereik.

Albei kunstenaars skep en sing oorspronklike musiek en beoog om binnekort hul eie albums uit te reik.

Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die webwerf om kaartjies te bespreek.

  • “Plattelanders” is gratis beskikbaar in Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.