Pluk vir jou ’n vars ‘Appel’

Christoph Appel Kotze

Foto verskaf aan Maroela Media

In die hedendaagse musiekbedryf waar musiek opgeklits word vir die massa en middelmatigheid die norm is, skitter die ware sanger-liedjieskrywer-element te dikwels in sy afwesigheid. Opgehemelde Eurovision-vertaalde wysies wat ons kuns en outentiekheid verlam, is aan die orde van die dag. Gelukkig is daar wel nog ’n gesonde landery waar liedjies gepluk kan word uit die pen van ’n handjievol briljante skrywers.

ChristophAppel” Kotze is een van daardie rare talente wat so een keer in ’n dekade ons bedryf ’n vars asem gee. Appel het reeds op 15 begin kitaar speel en toe al geweet hy wil komponeer en skryf vir ’n loopbaan. Op 17 was hy reeds die naaswenner van die ATKV Crescendo se skeppende afdeling. Min het hy geweet hoe sy skryfwerk nog sou lei tot topverkoperalbums van ons land se A-lys kunstenaars.

Appel is ewe gemaklik met sy energieke optredes as met sy skryfwerk. Appel is landwyd al deur groot gehore met luide toejuiging ontvang, en sy visier is doelgerig gestel om ons land se grootste verhoë aan die brand te kom sing. Dit is nou tyd dat Appel op die voorgrond verskyn.

Die gehalte van vertonings en feeste word gemeet aan die gehalte van die  kunstenaars wat teenwoordig is. Appel sal vir seker met sy unieke styl, sterk storievertel-sangtoon-stempel en bogemiddelde musikaliteit ’n positiewe bydrae tot enige geleentheid lewer. In 2011 nader Theuns Jordaan hom om ’n liedjie te skryf en “Sal jy bly” neem Suid-Afrika op horings. Die liedjie skop al die internasionale mededingers uit die pad en behou die nommer 1-posisie op elke radiostasie in Suid-Afrika vir meer as ’n maand aaneenlopend.

Op 27 is Appel tans die binne-liedjieskrywer vir die befaamde Inhoud Huis-groep nadat hy deur Johan Vorster genader is. Appel is ook hard aan die werk om sy nuwe langverwagte album vry te stel. Die CD sal ’n opvolg wees van vroeëre albums wat by ander maatskappye uitgereik is. Suid-Afrika se nuwe talent, Appel, is hier om te bly. Met topgehalte talent en professionaliteit gaan Appel nog diep spore trap in ons musiektuin. Appel word ’n geruime tyd al deur sy kollegas en die topkunstenaars in die bedryf geloof vir sy talent.

’n Paar van Appel se trefferliedjies is “Sal jy bly” – Theuns Jordaan, “Hande” – Karlien van Jaarsveld, “Superhero” – Eden, “Koue voete en warm liefde” – Bok van Blerk, “Wals wals Willimien” – Laurika Rauch, “Naweeklyfie” – Jay en Lianie, asook “Jasmyn Katryn” – Theuns Jordaan.

Joe Niemand stel dit so mooi: “Mense sal eendag weet as daar ’n Christoph Kotze-liedjie oor die radio speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Sjoe, dis erg om te lees dat iemand wat sulke laerskoolrymelary soos: “Wys my jou naweeklyfie; jy’s in vir n groot partytjie; Dit maak nie saak hoe jy lyk nie; Die ding raak mal mal mal mal; Mal tot die dak inval.” skryf, as ‘n “rare talent wat so een keer in ‘n dekade ons bedryf ‘n vars asem gee” beskou word deur die FAK.
Neewat. Vind eerder die ware kunstenaars. Mense soos Herman van den Berg, Valiant Swart, Gary Herselman, At Nel, Riku Lätti, ensovoorts.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.