Poet van die suburbs- Pierre Rossouw

 

Daar was al verskeie werklikheidsprogramme op televisie waarin daar na nuwe musiektalent gesoek is.

Die mees onlangse een was Ons soek die sanger, wat verlede jaar op kykNet te sien was. Daar was nie een erkende sanger onder die beoordelaars nie, maar hulle het Pierre Rossouw as wenner aangewys. Pierre se eerste album, Poet (soos in digter) van die suburbs, is pas vrygestel, en die vraag is of die beoordelaars reg besluit het.

Soos met die meeste snitte op die album is Ekskuus Oom sy eie komposisie. Ek moet eerlik wees; ek het aanvanklik niks van die liedjie gehou nie, maar’n mens wonder of daar nie dalk baie mans is wat in dieselfde posisie is nie. Die video word gereeld op kykNet Musiek vertoon, en veral die ou motor wat daarin voorkom, maak dit iets besonders. In Katrina sing hy van ‘n vrou wat heeltemal te hoë standaarde stel vir enige man wat met haar wil trou.  Tussen dorings en jasmyn is ‘n pragtige snit, en veral hierop bewys Pierre dat hy ‘n goeie liedjieskrywer is.  Enigiemand wat van feëverhale hou, sal Raponsie baie geniet; hy het van die bekendstes slim by die lirieke ingewerk.  Die lirieke van Kampkiewiete kan nie ernstig opgeneem word nie, maar dit is net die regte liedjie vir ‘n lekker Boere-opskop.  Miskien kry dit ook nog heelwat radiolugtyd!

Vriend is een van die beste snitte op die album, en hierin verwoord hy die verlange na ‘n vriend van kleintyd af baie goed.  Nog ‘n baie mooi snit is Meisie met die lang bos hare, en weer eens kom ‘n mens hy dat hy ‘n baie goeie en veelsydige liedjieskrywer is.  Wyntrein is een van die snitte waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak is, en daarom gaan dit beslis ‘n treffer wees.  Baie mense sal dink dis platvloers, omdat daar van alkoholmisbruik gesing word, maar jy lag lekker vir hom wanneer hy sing asof hy te diep in die bottel gekyk het. Die volgende snit is een van twee snitte wat hy nie geskryf het nie. Hartseer is ‘n duet met Sarah Theron en dit is ook die enigste snit waarvan die lirieke nie op die CD-omslag voorkom nie. Enigiemand wat wonder of Pierre verdien het om Ons soek die sanger te wen, hoef net na hierdie snit te luister.  Rocker in die boere-scene is ‘n dwarsklap na sy kritici, en dit is nog ‘n moontlike treffer vanaf die album. Ricus Nel speel konsertina op Kraai van Kraaifontein, een van die lekkerste snitte op die album. My lewe is nog ‘n goeie snit, wat hopelik ook ‘n treffer sal word.  Sy teen sy het al ‘n bietjie radiolugtyd gekry, maar eintlik het hy ‘n taalfout hier gemaak. Die titel moes eerder Sy aan sy gewees het. Nogtans is dit ‘n goeie snit wat ‘n treffer behoort te wees. Hoe voel dit, die voorlaaste Afrikaanse snit op die album, is ook ‘n goeie snit, maar hier en daar laat hy die klem op die verkeerde lettergrepe val, soos wat Kupido gereeld gedoen het. Haar pappa like dit nie is ‘n komposisie van Dewald Dippenaar, wat ook oorspronklik deur Dewald gesing is. Dit behoort van voor af ‘n treffer te word, want ‘n mens lag lekker vir die lirieke. Op die laaste snit, 1000 candles, bewys Pierre dat hy ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf en sing.

Laart ek maar eerlik wees; ek was nie baie seker of ek van hiedie album sou hou nie. Ek het egter gou my mening verander namate ek daarna geluister het; Pierre is ‘n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer wat verdien om baie gewild te word! As jy met ‘n oop gemoed na hiedie album luister, sal jy aangenaam verras word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.